Met Herverbeel pak Die Heuwels Fantasties nuwe verwerkings en akoestiese weergawes van hul treffers, sowel as unieke samewerkings met verskeie kunstenaars aan. Die idee was om met `n ander perspektief te kyk na bestaande Heuwels songs. Gunsteling-treffers word op hul kop gedraai met verfrissende produksie-style. Tresor, Tarryn Lamb, Laudo Liebenberg, Ampie, Die Krefies, Loki en Margot Rothman en 19-jarige Chxrl is van die bekende kunstenaars wat op die album saam met Die Heuwels verskyn.
Daar is selfs ook ‘n splinternuwe liedjie “Hardloop Weg.” Pierre Greeff sê dat hulle nie kan wag vir mense om hierdie nuwe tune te hoor nie. Hy vertel dat hy “Hardloop Weg” een oggend 03h00 op sy selfoon geskryf het. “Die skepping daarvan het gevoel soos ‘n letterlike, onwillekeurige uitvloeisel. Ek en Fred het daarna die lied eintlik baie gou aanmekaar gesit. Deur die jare kon ek op my een hand tel wanneer die skryf-proses so maklik gebeur het en gewoonlik is daai nommers nogal spesiaal. Dit voel ook, bygesê, soos ‘n lied vir hierdie tyd waarin ons nou leef. Hoop mense voel hom ook.”
Hunter Kennedy vertel “Om ons liedjies te ‘herverbeel’ was `n great manier om weer ‘n kalklig op ou songs te skyn. Ons het vroeër die jaar ‘n vollengte album (2021) uitgereik en in die middel van die jaar was daar die ‘Live in Lockdown’ album van ons livestream CD launch in Mei. Ons het natuurlik nie tydens die inperking getoer nie en dit het dus soos die perfekte tyd gevoel om Herverbeel aan te pak. Dit was vir my `n redelike maklike proses, want die lirieke is darem alreeds geskryf. Ek is opgewonde oor baie van die collabs. Die verskillende vervaardigers het mooi gemaak om die liedjies soos nuwe songs te laat klink. Dit was vir my nogal bucket list stuff om die kans te kry om saam met Tresor te werk. Margot se Mej Sonneblom is uitstekend. TeeJ het weereens ‘n great job gedoen, Ampie en Murray Lubbe se weergawe van ‘Ons Moet Leef’ voel soos ‘n ou classic, maar ook heeltemal anders – om maar net `n paar te noem. Almal wat saamgewerk het op die album het uitmuntunde werk gelewer.”
“Hardloop Weg” is op Vrydag 4 Desember uitgereik en “Herverbeel” is vanaf 11 Desember op digitale platforms beskikbaar. Daar is ook ‘n video van “Hardloop Weg” wat saam met die enkelsnit uitgereik gaan word. DHF was baie beïndruk met Hugo Brand, die DOP wat aan die video van “Mejuffrou Sonneblom” gewerk het. Brand het vir “Hardloop Weg” in die regisseur-stoel geklim en die video in twee dae saam met die band geskiet. Die aktrise Rolanda Marais speel ook in die video.
H E R V E R B E E L snitte:
1. Hardloop Weg
2. Shangri-la (feat. Tresor)
3. Praat Met My (feat. Die Krefies)
4. Ek Is Aan Jou Kant (feat. Loki Rothman)
5. Mejuffrou Sonneblom (feat. Margot)
6. Doodgewone Aand (feat. Chxrl)
7. Lieg Net Vir My (feat. Laudo)
8. Beloofde Land (Acoustic) [feat. Richard Onraet]
9. Sy (Acoustic) [feat. Danny Smoke]
10. Ons Moet Leef (Akoesties) [feat. Ampie]
11. Oorlewing 101 (Orchestral)
12. Buitenste Ruim (Herverbeel)
13. Verwag My Terug (feat. TJ Terblanché)
14. Leja (Acoustic)
15. Ek Mis Jou (Acoustic Live At The Baxter Theatre) [feat. Tarryn Lamb]
Bonus snitte:
16. Nare Kaskenades (Akoesties) [Bonus]
17. In en Uit (Akoesties) [Bonus]
18. Tyd [Bonus]