Die gewilde sangeres Janie Bay se musiek het sedert 2019 reeds meer as vier miljoen keer op digitale platforms gestroom. Haar Afrikaanse enkelsnitte “Amper Daar”, “Die Heelal” en “Jammer” wat in die afgelope twee jaar deur Warner Music South Africa uitgereik is, het verskeie nommer 1 posisies behaal en het volgens RadioMonitor.com, gesamentlik reeds meer as 3 000 keer op Suid -Afrikaanse Radio stasies landwyd gespeel. Die nuutste enkelsnit “Ek glo nog in Jou” wat Bay saam met Danie Reënwolf opgeneem en in November 2020 uitgereik het, is tans op Maroela Media Top 20 en het reeds meer as tweehonderd duisend klieks op YouTube.
Met aanhangers wat bly vra vir meer, wou Janie aanvanklik vanjaar `n vol-produksie album opneem, maar met die inperkingsreëls was daar nie toegang tot studios en kon musikante ook nie bymekaar kom om liedjies op te neem nie. Janie het besef dat sy wel `n akoestiese album sou kon opneem. In die Sitkamer is so te sê my “fated baby,” vertel Janie. Hierdie lieflike album is in September vanjaar uitgereik.
“Ek glo nog in Jou” word tans gehoor op radiostasies landwyd. Janie Bay en Danie Reënwolf span hul unieke kragte saam in hierdie nuwe enkelsnit- uitreiking. Beide sangers het `n besonderse gawe om die luisteraar te kan boei met hul gevoelvolle lirieke en stemme en “Ek glo nog in Jou” is die perfekte duet vir hierdie twee opwindende jong kunstenaars.
Janie vertel dat, ten spyte van die uitdagings, 2020 vir haar `n goeie jaar was. Sy sê: “Dit maak my opgewonde om te sien dat daar stelselmatige progressie is, al hoe meer mense begin na my musiek luister. Ek is ongelooflik dankbaar hiervoor. Oor die algemeen het kunstenaars baie swaar gekry hierdie jaar, plaaslik en internasionaal. Ek kyk so na my mede kunstenaars en dit wat hulle sê via sosiale media … Teleurstelling was maar deurgaans hoog soos vertoning na vertoning gekanselleer was, maar ek dink die drang om te kreatief te bly sal altyd daar wees vir ‘n kunstenaar. Dus sal ons aanpas, soms met frustrasie, al is dit ook dalk tans nodig om ook ander werk te doen om kop bo water te hou. Ek voel hierdie tye gaan ons toets soos nooit te vore nie en ek hoop regtig dat ek en my mede kunstenaars sal sterk bly en aanhou om great musiek te maak.”
Ek hoop dat ek in 2021 my nuwe, vol produksie album sal kan uitreik. Ek wil aanhou musiek skryf vir myself en ander, dis hoe ek ware konneksie voel. Ek werk ook aan `n nuwe besigheids-idee en sal volgende jaar meer daaroor gesels wanneer die tyd reg is. Ek wens almal `n Geseënde feestyd toe en kom ons maak die allerbeste van die nuwe jaar wat voorlê.”