Iewers verlede jaar, min of meer hierdie tyd (and it seems a lifetime away, of ten minste liters en liters se verkwisting), het woord ons hier onder in die Kaap bereik van Bacchus Nel. Dikwels genoem in dieselfde sin as Jan Blohm (heel moontlik deur Kabous Verwoerd, wat almal wat getwyfel het tot laataand sou besig hou om hulle te laat síen) en soms ook dalk Adam Tas – wie se album al verlede jaar uit is, maar nog nie sterk elders in die land begin vure maak het nie.
Maar Blinde Bacchus Nel – die trots van Standerton – is sy eie man. Jan Blohm en hy is bloot net stalmaats, iewers in Pretoria in mekaar vasgespeel, verhoë gedeel, deur mekaar se songs gereis (stunning oomblik op hierdie album – die wyedoek scene sketching song Sunnyside – waar Bacchus vra: “Wat nou? Wat nou, Jan Blohm?”).
Maar waar Blohm in die laaste maande voorop geplaas is in die media met sy massiewe Black & Decker rasperstem, bluesvingers en Die Ware Noord, het Bacchus met stille diplomasie die een na die ander mens geswaai in sy rigting.
Ja, meer subtiel mag hy dalk te werk gaan, maar Bacchus se musiek is stellig van die treffendste van die lot wat huidiglik om die luisteraar se aandag kompeteer. Dis natuurlik nie ‘n kompetisie nie, maar eerder ‘n ongelooflike opwindende opbloei, ‘n diversifikasie van die veld wat aan die gang is.
Check Brixton Moord en Roof se nuwe een, ook die Radio Kalahari Orkes, Trike en nog heel onervare name soos Rokkeloos, Trompie is Dood, Willim Welsyn (wie?) en Johan Nel (dubbel wie?) – Afrikaanse musiek se gif maak tans alle serum-pogings om dit te tem, liederlik fut.
Bacchus se styl is die kalm, gerusstellende waters van ‘n folkie wat jou met kitaar alleen kan betower – In Die Arms Van Die Nag word egter ook aangestu deur Lanie en Jorrie (ou Not My Doggers, sien) op kitare en perkussie onderskeidelik, Noddy (van Ware Noord-faam) op bass en Generaal Piet Botha op snaar, klavier en mondfluitjie.
Dit kan dus net ‘n bedrewe stuk musiek word. Live het hy onlangs hier in die Kaap saam met die manne van Vuurkleur gespeel, so dit blyk dat die hele package in goeie hande is. Koop tog vir Vrottie ‘n drink asseblief.
Maar die spelers is daar in die agtergrond rond. Bacchus en sy woorde en sy stem, wat daai skaars manier het om direk, sonder ‘n oordadigheid, sonder om te probeer ‘mooi’ sing, hier binne jou kom vasskop met die een onverbiddelike tune na die ander.
Nou nie dat Bacchus ‘n kruiwa se depro-grond oor jou enkels gaan kom uittip nie. Inteendeel. Sy aanslag is eintlik lig en vrolik, hy ken die waarde van ‘n lekker tune. Vat maar die titelsnit, wat dinge afskop hier: “As jy ooit van jou hartseer wil vergeet/ . / kom en lê dan in die arms van die nag”.
Die begeleiding is sonnig en tegemoetkomend, selfs met stadiger nommers soos Raam Dit Met Die Son (“ek skryf vir jou gediggies in vryhand/ as ek na jou verlang”) en die tranetrekker-lovesong Rooiwyn Winter (“is hierdie werklik liefde/ of begeerte-babbelas?”).
Die songs is oor die algemeen baie lank (13 songs oor 63 minute), maar dis net hier en daar waar die tunes bietjie pap raak en mens dink daar kon bietjie gesnoei word. Selfs dan egter, sal Bacchus se woordkuns jou bykans deurentyd boei.
Oppieplaas klink uit die staanspoor soos ‘n classic, die verhaal van ‘n groep skynbaar lost causes wat op ‘n plaas iewers bly met Bacchus-wyshede soos “jy’s op soek na liefde, maar lus sal alles opfok” wat dinge hier en daar van ‘n skoot helderheid voorsien.
Teen track nommer 8 sal enige twyfel wat jy dalk nog mog gehad het, verdwyn. Herfsman is iets van ‘n ander planeet. Waar van die voorafgaande songs bietjie in die sand verdwyn soos die Swakoprivier, is Herfsman se impak oombliklik.
Dis ‘n monster van ‘n liedjie, volgepak met ‘n hipnotiese chorus, wat die beat, die backing vocals en die woorde ry soos ‘n wafferse Terence Hill in ‘n spaghetti western: “‘n begrafnisstoet kom verbygery/ ‘die lewe is meer belangrik’, skreeu ek”. En die keer is dit kort – ‘n kompakte sub-3 minuut liedjie wat jou somehow nog steeds gelyktydig gelukkig, melankolies en effe verbyster laat.
Van hier tot die einde van die CD is daar nie ‘n swak liedjie nie. Alhoewel niks by Herfsman kom nie, staan Tel Jou Kleingeld, Tel Jou Cigarettes En Tel Jou Luck en veral Trek Oop Jou Gordyne (“dat die Here se lig op u kan inskyn”) en Sunnyside (“ek bly nou in Sunnyside, ma/ . / saam met my vriende/ en die tien plae”) breëbors as voorbeelde van Bacchus se fyn waarnemingsvermoë en behendigheid om sy alledaagse stories in liedjies te omskep.
Bittersoet liefdesliedjies is duidelik een van sy fortés en met Corner Kafee het Bacchus een geskep waarmee meeste mense sal kan identifiseer. Daai crush wat jou onwetend terg met sy/haar elke woord en beweging en al wat jy daaraan kan doen is. niks.
In Die Arms Van Die Nag is ‘n groot debuut wat Bacchus Nel in die voorste ry plaas wat nuwe Afrikaanse songwriters betref. Dis pretensieloos, eenvoudig en eerlik.
Dis nie iets wat jou met mag en mening meesleur nie, eerder iets wat geleidelik by jou kom inkruip totdat dit die enigste kombers is waarmee jy die koue wil aandurf. Boonop sal Bacchus se woorde vir dae in jou kop bly draai, want hy’t werklik die slag om ‘n goeie liriek te skryf.
Dis jammer die woorde is nie in die omslagboekie nie, maar daar’s gelukkig baie treffende sketse in – die cover self is nie sleg nie, dit word net visueel gedisrupt deur die een font wat gebruik word. Maar dis klein dingetjies.
Dit gaan tog oor die musiek en met dié skort daar niks. Mag Bacchus ons nog vir lank deur die hele gemors lei. Dankie, broer.