PRINS ALBERT – Die Karoo se mees ambisieuse musiekprojek — Journey to Jazz (oftewel J2J, vir die wat hul afkortings geniet) — rol weer die tapyt uit vir ’n verskeidenheid blaasinstrumente en ’n dromgedreun vanaf 30 April tot 3 Mei 2026.
Volgens die organiseerders is hierdie nie sommer net ’n fees nie, maar ’n sogenaamde “betekenisvolle musiekervaring” (lees: Jazz met emosie.).
Op die verhoog verskyn onder meer:
• Vusi Mahlasela, die man met verskeie toekennings wat bekend staan as The Voice. Hy bring sy vryheidsklanke na die dorre vlaktes — ideaal vir diegene wat hul vryheid saam met ’n akoestiese kitaar geniet.
• Paul Hanmer, wie se album Trains to Taung nou sy 30ste bestaansjaar vier, bring sy meesterlike klavierkuns na Prins Albert.
• Linda Sikhakhane en Paras “Sibalukhulu” Dlamini, uit Kwa-Nongoma, ’n plek wat glo “die moeder van liedere” genoem word.
• Zawadi Yamungu, wat tradisie en moderne soul so gemaklik meng soos ’n Karoo-tannie wat bobotie maak.
• Yonela Mnana en Benedikt Reising met hul projek Echoes of Marabi, wat beloof om die 1920’s se jazz weer in die 2020’s te laat asemhaal.
• Amy Campbell, wat Kaapse jazz met so ’n elegante aanslag uitvoer dat selfs die volstruise stilstaan om te luister.
Maar J2J is meer as net musiek. Elke kaartjie ondersteun jongmense van Prins Albert, Leeu-Gamka en omliggende dorpe om opleiding te kry in alle fasette van hierdie fees. Dis ’n fees wat letterlik op die skouers staan van die omgewing se jong helpers.
Die dorp verander jaarliks in ’n klankbord: optredes in die NG Kerk, kunsgalerye, ’n prehistoriese steengroef en ’n Art Deco-saal. In 2026 kom daar boonop ’n splinternuwe Noordeinde Stage, want hoekom nie?
En soos altyd bied die fees meet-and-greets, meesterklasse en kreatiewe interaksies — vir diegene wat al lank wonder hoe om soos ’n kenner te knik terwyl iemand ’n ingewikkelde noot speel.
Kaartjies is nou te koop en verblyf in Prins Albert raak vinnig so skaars soos hoedertande, so wikkel daai boude. Journey to Jazz is nie net musiek nie — maar ook vol betekenis, ’n gemeenskap, en ’n ritme wat selfs die Karoo se wind laat saam neurie.

