Kaartjieverkope vir die finale veldslag tussen die voorste ses sterre in die 2019 Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) se galakonsert, wat opgevoer word met Kaapstad Filharmoniese Orkes op Saterdag 12 Oktober by die Hugo Lambrechts Ouditorium in Parow, Kaapstad het met geesdrif afgeskop.

Meer as ‘n derde van die beskikbare 450 sitplekke is reeds ‘n maand voor die kompetisie opgeneem.

Slegs 18 van die 30 jong musici wie vir die jaarlikse NJMK ingeskryf het, is gekeur om vir R145 000 se pryse mee te ding by die 35ste aanbieding van die gesaghebbende kompetisie wat van 8 tot 12 Oktober by die ouditorium plaasvind.

 Die kompetisie vir klassieke instrumentspelers tussen die ouderdomme van 14 en 19 jaar het inskrywings van vier van die land se provinsies gelok. Hulle is gekies ná oudisies voor ‘n panel van gerespekteerde musiekkenners. Die 18 deelnemers kom vanaf die Vrystaat, Oos-Kaap, Gauteng en die Wes-Kaap.

Een van die jongste mededingers is ‘n 15-jarige violis, wie musiek studeer by die roemryke Yehudi Menuhin School of Music in Londen.     Daar is ook twee konsertmeesters, een van die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes en die ander van die Vrystaatse Jeugorkes, onder die mededingers.

Die NJMK word beskryf as een van die strafste kompetisies in Suid-Afrika. Die kompetisie vereis stamina, tegniese uitmuntendheid en sterk vertolkingsvermoëns. Die deelnemers wedywer oor vier rondes waartydens hulle ‘n wye repertoire van werke uit verskillende styltydperke speel.

Verlede jaar is altesaam 137 werke deur die 19 mededingers uitgevoer. Dit het meer as 24 uur, versprei oor die vier rondes van die kompetisie, geduur.

Al die gekeurdes speel indie eerste twee rondes waarna ‘n maksimum van 12 spelers deurdring na die derde ronde op Donderdag 10 Oktober. Die voorste ses spook dan sake uit onder begeleiding van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) by ‘n galakonsert op Saterdag 12 Oktober met die KFO residentdirigent, Brandon Philips op die podium.

 Daar is ewe veel pianiste, vioolspelers en fluitspelers. Die res van die veld bestaan uit drie tjelliste, twee klarinetspelers en ‘n faggotspeler. Vanjaar is daar sewe nuwelinge, nege kandidate wat vir die tweede keer meeding en twee wat die kompetisie vir die derde keer aandurf.   

Bo en behalwe die meer as R145 000 in pryse, ‘n goud, silwer and brons medaljes; word die algehele wenner genooi om by ‘n konsert op te tree by Overstrand Kunste in Hermanus. Wes-Kaapse finalis/te sal genooi word om by ‘n konsert by die Hugo Lambrechts Ouditorium op te tree.

Sedert verlede jaar het die Namibiese Nasionale Simfonie Orkes (NNSO) ‘n uitnodigingsprys ingestel vir ‘n finalis van hulle keuse om saam met die NNSO by hulle Concertofees 2020 in Windhoek op te tree.

Die kompetisie is die vlagskip van die Nasionale Jeugmusiekstigting (NJMS) onder voorsitterskap van Michael Maas, wie die kompetisie 35 jaar terug in Port Elizabeth begin het.

“Die stigting het oor die afgelope jaar die blootstelling van dié opkomende sterre verbreed met vier konserte waar voormalige kompetisiepryswenners as soliste opgetree het. Onder die titel, die Jong Kunstenaarskonsertreeks, het die uitvoerings alle verwagtinge oortref en vol sale getrek,” sê Maas.

Die NJMK hou tred met die tyd en saai die galakonsert regstreeks op Fynproewersradio (FMR), sowel as YouTube uit.

“Die gewildheid van dié kanale het oor die afgelope drie jaar gegroei en ‘n  internasionale reikwydte aan die kompetisie verleen. Die NNSO gebruik byvoorbeeld die uitsendings om die finalis vir hulle prys te kies,” sê hy.

·         Die finaliste se galakonsert op 12 Oktober begin om 19:00. Kaartjies kos R120, R90 vir pensioentrekkers, student en leerders.  Besprekings by Computicket 0861 915 8000, Shoprite en Checkers winkels, of aanlyn by www.computicket.com.

·          Toegang is gratis by die eerste drie rondes van 8 tot 10 Oktober by die Hugo Lambrechts-Ouditorium.

Liam Slabbert Zoé Parks Gerhard Joubert Jordan Brooks

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar