Van ’n spesiaal saamgestelde kamerorkes en immergewilde koor, tot kwartette, trio’s, duette en hope ander musikale verrassings.
Dít alles en meer wag op liefhebbers van klassieke musiek, kuns, kos en wyn by die 15de Klein Karoo Klassique, wat van Vrydag 9 tot Sondag 11 Augustus 2024 op Oudtshoorn aangebied word.
Steinway-pianis Charl du Plessis is vanjaar die gasheer by Klassique en tree na afloop van uitgesoekte uitvoerings in gesprek met kunstenaars. Dit bied nie net die perfekte geleentheid om meer oor die musiek wat uitgevoer word te leer nie, maar ook om in gesprek te tree met verskeie van Suid-Afrika se voorste klassieke musici.
Sien uit na ’n propvol program met onder andere die Charl du Plessis Trio, Nina Schumann, Peter Martens, Magdalene Minnaar, Megan-Geoffrey Prins, Esthea Kruger, Lynelle Kenned, die Odeion Strykkwartet en vele meer. ’n Spesiale Galakonsert met die Kaapstad Feeskamerorkes, onder leiding van Richard Cock, met Samson Diamond as gaskunstenaar en ’n spesiale optrede deur die Suid-Kaap Kinderkoor, onder leiding van Jan-Erik Swart, met Joshua na die Reën as spesiale gas, beloof om twee hoogtepunte te wees.

