Suid-Afrika se nommer 1 musiekfees Liefde by die Dam is vanjaar terug in Johannesburg en Kaapstad, en word ook vir die eerste keer in Namibië as Liefde by die Nam aangebied. Dié gewilde fees is bekend vir groot skares voor groot verhoë met `n reeks kunstenaars wat die top-klas Afrikaanse pop en alternatiewe klanke van die Suid-Afrikaanse musiek-landskap verteenwoordig.
Liefde by die Dam skop vanjaar in Johannesburg af op 5 Augustus by Emmarentia Dam en aanhangers kan uitsien na optredes deur Die Heuwels Fantasties, Early B, Fokofpolisiekar, Robbie Wessels, Kurt Darren, Droomsindroom, Bobby van Jaarsveld, Riana Nel, Tasché en nog vele meer.
In September trek die Liefde- span op na Namibië vir die heel eerste Liefde by die Nam konsert by Vegkop WHS in Windhoek op 9 September. Francois van Coke, Appel, Die Heuwels Fantasties, Bobby van Jaarsveld, Tasché, Early B en nog `n rits kunstenaars tree hier op. Maak reg vir groot gees by hierdie nuwe Liefde fees!
Kaapstad, maak reg vir julle beurt op 4 November by Meerendal. Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties, Riaan Benadé, Appel, Droomsindroom, Francois van Coke, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld en nog vele bekende kunstenaars gaan sorg vir `n groot bederf op hierdie mooi wynlandgoed. Die gewilde komediant en akteur Schalk Bezuidenhout is, soos elke jaar, die seremoniemeester by Liefde Meerendal en sal sorg dat alles op tyd verloop, met lekker vibes!
Early B is een van die kunstenaars wat gereeld op die Liefde by die Dam verhoog te sien is, en vanjaar is hy by al drie die konserte te sien. Hy vertel: “Dis altyd ‘n eer om selfs by een op te tree, maar om hierdie keer dit te ervaar in al die verskillende stede en veral ook in die buiteland, is nogal groot vir my hoor! Dit gaan ook oor meer as net musiek. Die feesgangers word gevra om kombersies en so te skenk aan liefdadigheid. So, die fees is meer as net musiek. Dit is sy naam werd.”
Tasché tree ook vanjaar by Liefde in Johannesburg, Kaapstad en NAM op. Sy sê: “Liefde is vir Almal. Dit raak elke jaar net groter en dit is nie sommer net enige fees nie. Elke jaar los hulle die feesgangers in awe. As ek sê ek is opgewonde is dit `n understatement. Ek kan nie wag nie!”
Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties en ook een van die hooforganiseerders van die Liefde-konsertreeks sê: “Die kaartjies het verlede jaar letterlik oornag uitverkoop. Ons maak gereed om vir ons feesgangers `n ervaring uit te boonste rakke aan te bied. Ons is ook baie opgewonde om vanjaar die eerste Liefde by die Nam na musiek-fans in Namibië te bring. Spring gou om seker te maak dat jy kaartjies kry. Ons gaan, soos elke jaar, super groot!”
Kaartjiepryse
Algemeen: R295
VIP: R2950 – (vinnige ingang, toegang tot VIP area en sitplekke met area se eie kroeg en toilette.)
Geen VIP kaartjiepryse vir kinders, slegs een prys per persoon vir VIP.
Kinders 4 tot 12jaar – R150.
Kinders onder 4 gratis toegang.

Liefde by die Dam JOHANNESBURG Die Heuwels Fantasties, Early B, Fokofpolisiekar, Robbie Wessels, Kurt Darren, Droomsindroom, Bobby van Jaarsveld, Riana Nel, Tasché, Will Linley, Snotkop, Brendan Peyper, Barto, Justin Vega.
Liefde by die NAM WINDHOEK Francois van Coke, Appel, Die Heuwels Fantasties, Bobby van Jaarsveld, Tasché, Early B, Snotkop, Robbie Wessels, Riana Nel, Barto, Justin Vega. Namibiese kunstenaars word nog aangekondig.
Liefde by die Dam KAAPSTAD Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties Riaan Benade, Appel, Droomsindroom, Francois van Coke, Early B, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Kurt Darren, Brendan Peyper, Riana Nel, Barto, Tasché, Dodo, Justin Vega.