“Word wakker. Staan op. Gaan werk toe. Word wakker. Staan op. Gaan huis toe. Die siklus herhaal homself tot vervelens toe. Wat gaan van ons word?”

Dit is as gevolg van hierdie worsteling dat Nagligte besluit het om hul vrese en drome aan die wêreld te openbaar. Hierdie gewilde Afrikaanse rockgroep bestaan uit drie lede, Jacobus ‘Roof’ Brink (voorsanger, kitaar en klavier), Wynand Jonker (kitaar) en Daniël ‘Eddie’ Brink (dromme).

Die groep is in 2 000 begin toe Roof en Wynand mekaar op Universiteit ontmoet het. Albei was aanvanklik skepties oor die ander se musikale vernuf, maar vanaf die eerste optrede was die skrif teen die muur: “We’re starting a band!”

Vir meer as ’n dekade lank is die droom, maar soos meeste drome, eenkant toe geskuif om stof te vergader tussen IRP5’s, troufoto’s en kinderspeelgoed. Aan die begin van 2014 het dit egter uiteindelik begin momentum kry toe hulle saam met Eddie begin liedjies skryf het.

“Ons was so gatvol vir ons werke. Ons wou net iets doen om uit hierdie sieldodende bestaan te kom”, sê Roof. Al drie die lede is voltydse besigheidsmanne. Sommer gou daarna is die rowwe idees in Wynand se huis in sy ateljee neergelê “and the band was gonna make it!” ’n Goeie vriend van die groep, Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties, het voorgestel dat hulle vir Fred den Hartog (Die Heuwels Fantasties) betrek om ’n album te vervaardig. ’n Paar van die liedjies is deur Francois de Klerk vervaardig.

Die groep se debuutalbum, Hoop in die Donker, is gedurende die tweede helfte van 2015 uitgereik en het onmiddellik aandag getrek. Die eerste enkelsnit, “Dit Stop Nou”, was ’n treffer en het vir weke lank bo-aan die trefferparades van bekende radiostasies gepryk.

“Dit Stop Nou” is opgeneem deur Francois de Klerk by Blakk Productions in Potchefstroom en gemeng deur Jürgen von Wechmar van Sunset Recording Studios in Stellenbosch. “Een van die vervaardigers op die album, Sheep (Francois de Klerk), het vir ons ’n stuk musiek gestuur en gesê ons moet kyk waarmee ons kan opkom. Ons was dadelik mal daaroor en Wynand het vinnig met die melodie en die konsep vir die liedjie vorendag gekom. Ek, Roof en Wynand het toe saam die lirieke begin skryf”, vertel Eddie.

“Dit Stop Nou”, wat op die samestelling Alternatief is Groot, Volume 1 ingesluit is, het ook die aandag van Universal Music Suid-Afrika getrek en hulle het nie gras onder hulle voete laat
groei nie, dadelik die talent raakgesien en hierdie nuwe rockers opgeraap! “Ons is verskriklik bly vir die geleentheid om saam met Nagligte te kan werk. Ons wou lankal ’n goeie, Afrikaanse groep, wat aan die voorpunt van rock is, teken en Nagligte voldoen aan al die voorwaardes. Hulle is ’n groep talentvolle ouens met ’n baie duidelike visie van wat hul wil bereik,” sê Kevin Grenfell, Hoof van A&R, Universal Musiek Suid-Afrika.

Die rock-sensasie het kort daarna kontrak geteken met die musiekmaatskappy. “Ons beskou dit as ’n groot eer en voorreg om saam met Universal Music Suid-Afrika te kan werk. Ons is opgewonde om al van vroeg af die pad met hulle te stap en baat te vind by hul ervaring, eindlose hulpbronne en entoesiasme vir Afrikaanse Rockmusiek. Daar is groot planne vir Nagligte en ons sien uit om saam suksesvol te wees en saam Afrikaans te laat rock,” sê Roof Brink.

Nagligte se derde enkelsnit en musiekvideo, “Vir Nou”, is onlangs vrygestel.

Nagligte

Lewer kommentaar

Leave a Reply