Die besondere uitdagings van grendeltyd, het gelei tot ’n splinternuwe album deur die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Anne-Marie van Eeden. Die album, Optelwoorde, se tema is woorde en dit kombineer digkuns en Bybelverse met wêreld-musiek soos folk, sagte jazz en rock.

“Tydens grendeltyd het ek die idee gekry om hierdie ‘geforseerde af-tyd’ te probeer benut,” verduidelik sy. “Alleen tuis met my klavier, digbundels en boeke, het ek begin lees. Ek het my voorgeneem om te lees tot ek iets raak lees wat werklik my hart diep roer. Dan het ek daardie gedig of woorde geneem en klavier toe geskuif om dit te omskep in ’n lied. Ek het woorde bymekaargemaak van digters soos Koos van der Merwe, C. Louis Leipoldt, Annie Johnson Flint, maar ook woorde uit die Bybel… vandaar die titel van my nuwe album.”

Die album, wat vervaardig is deur Helmut Meijer, het twee jaar geneem om te voltooi en bevat tien nuwe liedjies, waarvan sy nege self geskryf het. Een van die musikant se persoonlike gunstelinge, is “Ek Is Hier”, wat dan ook die naam is van haar nuutste enkelsnit.

Hierdie liedjie se lirieke, ’n duet saam met Prophet se Koos van der Merwe, is deur Koos geskryf en deur haar tweelingsuster, Lizanne Barnard, getoonset. “Ek skryf gewoonlik my eie musiek, maar ek kon net nie die regte klank vind vir hierdie gedig nie,” verduidelik Anne-Marie. “Ek het toe my suster in Suid-Afrika gebel en sy het binne ’n dag die melodie vir my gestuur. Ek het dadelik geweet … dis die een!”

Die kunstenaar glo dat “Ek Is Hier”, die derde vrystelling vanaf haar vyfde album, vir verskeie redes by luisteraars sal aanklank vind. “Die snit, met sy betekenisvolle lirieke en pragtige melodie, is uniek tot die Afrikaanse gospel-genre. Alhoewel dit geestelik is, spreek dit beslis tot ’n breër mark.”

Van haar ander gunstelinge sluit in “Waarvoor Is Jy Bang”, wat direk met elkeen praat wat vrees en uitdagings ervaar, asook “Ek Ken Genade”. Dit is geïnspireer deur Beethoven se Maanligsonate, wat ’n nuwe identiteit kry met ’n melodie op die woorde van Koos en die pragtige vioolspel van Veronica Bell!

Aangesien sy baie sukses gehad het met haar vorige musiekvideo’s, het sy besluit om vir “Ek Is Hier” ook een op te neem. Dit is deur Charl du Preez vervaardig en in Helmut Meijer se ateljee opgeneem en wys Anne-Marie en Koos wat saam oor ’n lekker glasie rooiwyn oor die lewe filosofeer.

Ek is hier

Wat haar musiek nog meer spesiaal maak, is dat sy die afgelope paar jaar die voorreg gehad het om saam met talentvolle Europese en Suid-Afrikaanse musikante te werk, waaronder Olivier Ker Ourio (chromatiese mondfluitjie), Matthieu Michell (trompet), Calen Gale (fluit), Schalk Joubert (baskitaar), Vinnie Henrico (dromme), en Philip Holder (saksofoon).

“Ek wil hulde bring aan die musikante waarmee ek geseënd is om te werk! Die beste van die beste! Hulle is elkeen in eie reg uitstaande musici. Elkeen bring hulle eie stel vaardighede, wat oor jare se skoling en harde werk gevorm is, om my liedjies volle lewe te gee. Wat ’n voorreg!”

Dié Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer het haar debuut gemaak met haar eerste solo-album, Kyk Op, in 2003. Sedertdien het sy nog drie albums vrygestel, twee Lier-toekennings gewen en is sy benoem vir ’n Ghoema (2017), maar sy meen dat luisteraars se terugvoer – oor hoe haar musiek hulle harte geraak het – haar grootste hoogtepunt is.

Buiten vir haar musiek en werk as motiveringspreker by vrouefunksies, is hierdie veelsydige ster – wat in Pretoria grootgeword het – ook ’n ma (en ouma), onderwyser, koorleier – sy het twee kinderkore oorsee gestig – en lid van die vrouebedieningsbeweging, KeeperSoul.

Sy beskryf haar musiek as wêreld-musiek – ’n unieke kombinasie van klassieke-, jazz- en folkklanke. Hoewel sy haar eie lirieke in Afrikaans en Engels skryf, is sy ook bekend vir haar vaardighede om geliefde Suid-Afrikaanse gedigte te toonset.

Volgens haar, is haar musiekstyl grotendeels beïnvloed deur kunstenaars soos Sting, Queen, Billy Joel en Herman van Veen, maar sy geniet dit ook om na jazz, klassieke musiek en Latyns-Amerikaanse ritmes te luister. “Ek is mal daaroor om saam met my hond op die maat van hierdie musiek te dans – natuurlik waar niemand ons kan sien nie!”

Buiten vir voltooiing en vrystelling van Optelwoorde, was Anne-Marie die afgelope jaar baie besig. Nie net het sy die verhoogproduksie, Lig Vir ’n Wegloopsiel, saam met Koos van der Merwe geskep nie, maar ook aan ’n opwindende projek, Scatterlings Collective, saam met ander mede-Suid-Afrikaners gewerk.

“Nadat ons besef het hoeveel Suid-Afrikaanse kunstenaars in Switserland en regoor Europa woon, het ons besluit om konserte aan te bied waarby oud-Suid-Afrikaanse kunstenaars (expats) en plaaslike Europese talent betrokke is. Die eerste geleentheid is in Switserland gehou en die opvolg-vertoning het in die Algarve in Portugal plaasgevind, waar daar ’n groot Suid-Afrikaanse gemeenskap is.”

Anne-Marie is bekend vir haar onkonvensionele bydra tot die Afrikaanse musiekbedryf en Optelwoorde stel beslis nie teleur nie.

Anne-Marie Optelwoorde Album Cover
Anne-Marie – Optelwoorde

Lewer kommentaar

Leave a Reply