Daar is onlangs in die media na dié twee as ’n fenomeen verwys, ’n duo waarvan die genre nie werklik beskryf kan word nie en iets totaal vars vir die Suid-Afrikaanse musieklandskap. Hulle gehore strek letterlik deur elke ouderdomsgroep en beskryf RAAF as ’n moet-sien en ’n lewensveranderende musiekervaring. Een gehoorlid verwys soos volg na ’n RAAF vertoning: “Daar was … regte magic … jy’s dit aan jouself verskuldig om ten minste een keer in jou lewe ‘n RAAF show by te woon”. Dis ruk en rol, dis hard, teer, dit los jou geïnspireerd, dis die toekoms van Afrikaans.

“RAAF is ‘n prag talent waarop ons met reg trots kan wees”, skryf ‘n ander gehoorlid op sosiale media na aanleiding van ‘n vertoning wat hulle bygewoon het. Hulle reageer nederig op hierdie stellings met “Ons doen maar net wat ons doen en ons is dankbaar dat mense daarvan hou …”

“Jare gelede het musikante hulle tyd gevat om hulle musiek in meesterstukke te omskep en dit met sorg aan hulle aanhangers te oorhandig – ons wou weer voel hoe dit gevoel het” sê Lourens Raaf. “Dis al omtrent vyf jaar wat ons skryf en werk aan hierdie album en ons voel dit is ‘n samesnoering van alles wat ons was, is en wat ons geword het. Ons opwinding om dit aan die wêreld te gee sodat elkeen dit hulle eie kan maak, is oorweldigend” voeg Esté by.

Die album Prediker bestaan uit 16 oorspronklike Afrikaanse liedjies.

“By konserte verwelkom ons deesdae gehoorlede op die RAAFtuig waarmee ons gaan reis na plekke ver van hier; plekke waar ons weer kan droom, kan dans, kan partytjie hou, kan onthou en kan vergeet en herinner kan word aan wie ons diep aan ons binnekante is en hoekom ons op hierdie Aarde is. Dis in die naam van musiek, in die naam van samesyn en hierdie Prediker album is die perfekte playlist op ons RAAFtuig avonture. Jy is welkom op die RAAFtuig, dis die toekoms, dis Afrikaans, dis ons” – Esté en Lourens RAAF.

Met hulle musiek en hulle vertonings wil RAAF saam met hulle gehore kies om voluit te lewe, om ’n verskil te maak waar hulle is, om hulle drome te volg en te deel, om mooi te kyk na mekaar en na die wêreld en om dan en wan so bietjie te laat gaan en net te lééf – hulle glo die lewe is kort en daar is so baie mense om te ontmoet en plekke om te sien.

RAAF is die Afrikaanse betekenis van hulle familienaam, Rabe. Vandat hulle in 2013 getrou het, het hulle reeds daaraan begin dink dat dit slim sal wees om die naam van die band meer tuis te bring. Die studentedae was verby en die musiek loopbaan het ernstig vlerke begin kry, maar die lewe is besig en tyd vlieg en voor ons weet was dit 2020. Die inperkingstyd was vir dié twee ’n goeie tyd vir refleksie en skryf. Dis hier waar hulle ook navorsing sit en doen het oor die betekenis van hulle van, Rabe. Hulle lees toe dat ’n raaf ’n boodskapper voël is, die grootste in die songbird-familie, dat hulle een maat vir ’n leeftyd kies en dat hulle territoriaal is, kan speel, kan leer en kan pret hê.

Hierdie beskrywing het hulle laat besef dat hulle familienaam eintlik nog altyd beskryf wat hulle doen as ’n loopbaan en die perfekte naam is om hierdie reis tuis te bring. Só het die Bottomless Coffee Band in Oktober 2022 RAAF geraak.

Die eerste drie enkelsnitte van Prediker is nou beskikbaar:

Vrygelatenes – RAAF
As en Stof – RAAF
Paternoster – RAAF

Prediker op toer

14 Julie – Paternoster, Koelkamers

20 Julie – George, George Arts Theatre

21 Julie – Port Elizabeth, Music Kitchen

22 Julie – Jeffreysbaai, J-Bay Bru Co

27 Julie – Ermelo, Skemer

28 Julie – Bloemfontein, Warm Karoo

4 Augustus – Tzaneen, Old Packhouse

5 Augustus – Pretoria, Atterbury Teater

27 & 28 September – Durbanville, Die Boer

Sluit aan by die Gesprek

3 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply