Richann Brüssow is ’n boer én musikant — twee roepings wat hy met eerlikheid en hart saamleef. Sy musiekloopbaan het begin op die realiteitsreeks Boer Soek ’n Vrou, waar die gewilde groep Reën ontstaan het.

Hierdie ervaring het sy liefde vir musiek en storievertelling versterk, en was die begin van ’n unieke reis as kunstenaar. Deesdae volg Richann sy eie roete as solo-sanger en liedjieskrywer, met ’n styl wat diep gewortel is in sy leefwêreld op die plaas.

Sy tweede enkelsnit, “Tyd”, is ’n persoonlike en eerlike refleksie op die moderne strewe na “meer”, teenoor die dinge wat werklik saak maak: rus, liefde, geloof en genoegsaamheid. Dit is ’n lied oor balans — tussen drome en vrede, verwagting en aanvaarding. Die lirieke dra ’n hoopvolle boodskap van genade, en herinner aan die waarde van tyd saam met dié wat jy liefhet.

Met sy rou akoestiese klank, opregte stem en aardse temas, bring Richann vars lewe en geloofwaardigheid na die Afrikaanse musiektoneel. Hy leef sy musiek — en dit hoor jy.

“Ek is ongelooflik opgewonde om “Tyd” met die wêreld te deel,” sê Richann.

“Die doel is om ’n gevoel oor te dra, en dit gaan interessant wees om te sien of ons dit reggekry het. Daar is beslis baie tyd in hierdie projek ingesit. Ek is ook baie opgewonde dat ons vir mense kan wys hoe dit agter die skerms was.”

Die musiekvideo is verfilm op die plaas, met ’n paar harige plaasbewoners as spesiale gaste.

“Skape doen nie altyd wat jy wil hê hulle moet doen nie, maar hulle het ons darem tegemoet gekom met hulle fooi as ekstras in die video — hulle was gelukkig met ’n paar lusernbale!”

Richann is dankbaar vir die ondersteuning wat hy ontvang het:

“Dit is ook baie belangrik om te noem dat hierdie glad nie moontlik sou wees sonder die ondersteuning van Hinterland SA nie. Ek stap al ’n lang pad saam met hulle in ons boerdery, en ek trap nou nuwe spore saam met hulle in my musiekloopbaan ook!”

Hy rig ook spesiale dank aan sy produksiespan: Ewald Janse van Rensburg, Quintin van der Merwe, en Danie Pretorius – ’n span wat sy visie met toewyding en kreatiwiteit tot lewe gebring het.

Lewer kommentaar

Leave a Reply