Slegs glas – Glass only span die kroon op tien jaar se vermaak deur Suid-Afrika se gunsteling vroulike a capella groep Cutt Glas.
Slegs glas – Glass only is reeds die dinamiese groep se vyfde CD maar dis die eerste vrystelling wat deur ´n belangrike Suid-Afrikaanse platemaatskappy gerugsteun word. BMG Records Africa het aan Cutt Glas die geleentheid gebied om ´n CD op te neem wat suiwer op die luisteraars-publiek gemik is en onder direksie van regisseur Didi Kriel het die groep daarin geslaag om ´n briljante produk daar te stel wat hulle verhoogvertonings perfek aanvul.
Getrou aan die Cutt Glas-tradisie bied Slegs glas – Glass only ´n wen-versameling van Suid-Afrikaanse en internasionale trefferliedjies in hulle onverbeterlike a capella styl. Met die uitsondering van een snit op die album word al die klanke deur Cutt Glas (met hulle lywe, monde, naels) self gemaak..perkussieklanke en nabootsing van musiekinstrumente – geen klank kan die groep nie optower nie. Oor vier oktawe span die omvang van Cutt Glas se stemme – nog ´n eienskap wat bydrae tot die uitsonderlike vermoëns van hierdie besondere groep vroue.
Hoogtepunte op Slegs glas – Glass only sluit in ´n meesleurende uitvoering van “Warrior” (Wyrd Sisters), ´n dinamiese weergawe van die Vusi Mahlasela treffer “Basimanyana”, “Rum & Coca Cola” (Andrews Sisters) – waar die Cutt Glas-woema meters ver verby die plafon skiet – en “Everybody hurts” (REM). Hierdie verwerking deur Didi en Cutt Glas laat jou vinnig na ´n sneesdoekie gryp. Verder voer Cutt Glas jou mee met onoortreflike verwerkings van “Wanneer dit reën op Rietfontein” (Marimba), “Delta Dawn” (Bette Midler) en “All you have to do is dream” (Everly Brothers) – die eerste liedjie wat Cutt Glas ooit uitgevoer het.
In 1990 is Cutt Glas met sewe lede gevorm. Drie van hulle, Shireen Hollier, Karen Meiring en Bondina Osterhoff, vorm steeds deel van die groep terwyl Jolette Odendaal en Anna Davel onderskeidelik in 1995 en 1997 by Cutt Glas aangesluit het.
Gedurende die laaste 10 jaar het Cutt Glas haar plek as een van Suid-Afrika se top ensemble groepe verdien met prestasies wat deur min geëwenaar kan word. Singcopation (die groep se eerste CD) is bekroon met ´n Radio Artes in 1993. Gedurende 1995 wen Cutt Glas die vokale ensemble-afdeling van ´n hoogaangeskrewe Afrika-musiekkompetisie. Cutt Glas word die SA Toerismemaand-inisiatief se eerste kulturele ambassadeurs en word staande toegejuig tydens die 1998 Wêreld-Expo in Lissabon. Die groep ontvang in 1999 ´n spesiale prys in die vokale ensemble-afdeling by die befaamde Tampere Koorfees, wat in Finland gehou word.
2001 gaan vir Cutt Glas ´n jaar vol opwindende ondervindings wees. Na die loodsing van Slegs glas – Glass only tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, waar hulle ook kragte gaan saamsnoer met nog ´n plaaslike vroulike a capella groep, volg ´n oorsese toer na Londen, Amsterdam en Flaandere. Intussen word daar reeds hard gewerk aan Cutt Glas se volgende opname – die keer met oorspronklike materiaal.
