Spesiale konsert ter ere van musiekpedagoog

Van Suid-Afrika se voorste uitvoerende musici sal op Sondagmiddag 21 Oktober die geleentheid kry om hulde te bring aan die bekende musiek- en klarinetpedagoog, Leon Hartshorne, wat in Augustus vanjaar na ‘n kort siekbed oorlede is.

Hartshorne het gedurende sy leeftyd ‘n groot aandeel gehad in die vormingsjare van talle musikante wat vandag plaaslik, sowel as op internasionale vlak presteer. Van hulle sal gehoor kan word in hierdie spesiale konsert.

Gevestigde, sowel as jong opkomende kunstenaars sal deel uitmaak van ‘n genotvolle uitvoering, wat van Hartshorne se mees geliefde komposisies sal insluit. Die gehoor kan uitsien na intiemer werke, soos Schubert se “Herder op die Rots” vir sopraan, klarinet en klavier, tot die groot simfoniese klanke van Danse Bachanalle uit die opera Simson en Delila van Saint-Saëns.

Die sangers Minette du Toit Pearce, Sabina Mossolow en Hlengiwe Mkwanazi en instrumentaliste Stefan Lombard (klavier), Carin Bam (hobo), Valentina Vorster (viool), Daniel Prozesky (klarinet) asook Sherilee Adams en Dylan Tabisher (marimba duo), sal die verhoog deel met die Hugo Lambrechts Simfonie Orkes, gedirigeer deur Liam Burden.

Talentvolle jong leerders van die Hugo Lambrechts Musieksentrum sal ook gehoor kan word in items gelewer deur die sentrum se Senior Strykorkes, sowel as Konsertblaasorkes.

Die konsert vind plaas op Sondag 21 Oktober om 15h30 in die indrukwekkende Hugo Lambrechts Ouditorium, Picton Straat, Parow. Die publiek word aangeraai om vroegtydig kaartjies te bespreek by www.webtickets.co.za of deur 021 461 3816 te skakel gedurende kantoorure.

Agter: Sabina Mossolow (sopraan), Carin Bam (hobo), Stefan Lombard (klavier), Minette Du Toit-Pearce (mezzo-sopraan). Voor: Valentina Vorster (viool), Hlengiwe Mkhwanazi (sopraan), Daniel Prozesky (klarinet).
Agter: Sabina Mossolow (sopraan), Carin Bam (hobo), Stefan Lombard (klavier), Minette Du Toit-Pearce (mezzo-sopraan).
Voor: Valentina Vorster (viool), Hlengiwe Mkhwanazi (sopraan), Daniel Prozesky (klarinet).

Die Leon Hartshorne Huldigingskonsert word aangebied deur Die Hugo Konsertreeks, in samewerking met die Hugo Lambrechts Musieksentrum.

Lewer kommentaar

Leave a Reply