deur Toast Coetzer
Ek’s altyd bereid om van voor af beïndruk te word, so toe ek Steyn se debuut solo-album uit my discount-flyer verstopte posbus haal, was ek bereid om my ingeboude vooroordele teen byvoorbeeld cheesy CD covers, clichés en moderne haarstyle vir ‘n wyle opsy te skuif.
As die omslag jou nie reeds daarop attent gemaak het nie, sal “Baby Love Van My” alle twyfel uit die weg ruim: Steyn is ‘n Afrikaanse popsanger wat gemoedelik-lokale liedjies oor die liefde, familie en sy omgewing sing. Die liedjies maak oombliklik ‘n impak – dis ‘n direkte aanslag op jou ore en voete, want die eenvoudige kitaar-tromme-baskitaar (met jolige klavier hier en daar) kombinasie is duidelik iets waaruit Steyn met gemak aansteeklike liedjies kan optower.
Die produksie is deurentyd vlymskerp, soms effens avontuurlustig – alhoewel ‘n paar effekte ongelukkig oorbenut word (die ‘geblikte’ intro van “Happy Dayz” verskyn later op “Storie Van My Hart” weer, met minder impak), terwyl ander oomblikke onontgin laat staan word (bv die outro van “Slaap Jy Rustig Vanaand” wat vir ‘n sekond aan The Flaming Lips herinner, maar dalk verwag ek te veel) ten gunste van ‘makliker’ musiek.
“Happy Dayz” is ‘n gunsteling, Steyn wat ‘n roerende memoir aan sy oupa so fyn en lig benader dat jy skaars die traan gaan merk wanneer dit kom. Alhoewel Steyn se lirieke nie van die hardste of treffendste is nie, het hy die talent om dinge eenvoudig en gemaklik oor te dra:
“as die mense om my stil raak en die dagbreek geen verskil maak
dwaal my hart weer terug na Sondae van vleisbraai lag en hout dra”
Hier is ‘n fantastiese song, alles afgestroop tot ‘n eenvoudige, mantra-agtige liriek, ritme en ‘n enkele kitaar-ping wat kompak die verlangende voortsleep. Dis songs soos hierdie wat bewys dat Steyn nie jou gewone twee-lettergreep jafel met ‘n kitaar is nie.
Alhoewel die bonus-snitte (remixes van “Happy Dayz” en “Storie Van My Hart”) sekerlik ‘n paar sokkie-entoesiaste se oë sal laat ophelder met ongesonde gedagtes van sweterige hande om die heupe van ongehude jong dames uit die distrik, doen dit myns insiens afbreuk aan die album. Dis seker hoekom hulle bonus-snitte is, maar jissus, dis standaard doef-doef effek-effek hanna-hanna repeat cycle tipe drek soos beskikbaar in elke tweede biertent by ‘n groot kunstefees. To be fair, die “Storie Van My Hart” remix has its moments.
Daar’s egter genoeg blink gedagtes elders op die album wat daarop dui dat Steyn Afrikaanse popmusiek met ‘n verskil kan maak. Of hy wil is sy besluit. Mens wil soms net hê hy moet heeltemal oorboord gaan – maar hierdie is vroeë tye, so kom ons kyk wat gebeur. Boonop is dit kommersiële popmusiek waarvan ons praat, so dalk is dit perfek soos dit is. Ek’s seker dis op ‘n radio iewers naby jou.