Die TopWineRoots Laailou Musiekfees bied `n opwindende nuwe musiek-ervaring by Bergrivier-oord in die Paarl op Saterdag 19 November aan. Lê lekker op jou laailou op die Bergrvier of kyk na die vertonings vanuit die gemak van jou kampstoel.
Van Suid Afrika se top kunstenaars gaan by die fees te sien wees. Die program sluit in: Karlien van Jaarsveld, Janie Bay, Tasché, Ampie, Corné Pretorius sowel as Loki Rothman en Margot Rothman.
Vir feesstigters, Corné Pretorius en Wynand de Villiers, was die resonansie van die naam belangrik, maar meer belangrik was dat die naam die regte toon daarstel, en al die elemente van die fees omarm: Die onderskeidende kristalhelder element is natuurlik dat jy die fees op jou laailou kan aanskou. “Ons glo die line-up is uitsonderlik, maar vir ons is die setting van die fees en die vibe wat ons wil skep die groot onderskeidings elemente van die fees. Die Bergrivier-oord is absoluut geskik vir die aanbieding van ‘n baie unieke fees met twee sitplek-keuses, en byna die hele oord is onder ‘n wonderlike skadubedekking van ou bome.”
De Villiers voeg by dat hulle beplan om dié nuwe fees jaarliks aan te bied. “Ons is bevoorreg om soveel ondersteuning vir die eerste uitgawe van die fees te hê, veral van ons korporatiewe en media borge soos TopWineRoots en Bok Radio.”
“Local is lekker” sê hulle, en raai, beide Karlien van Jaarsveld en Janie Bay is in die Paarl gebore. Die sanger Corné Pretorius woon tans in dié lieflike dorp.
Janie Bay sê: “Ek het so lanklaas daar opgetree. Ek sien super baie daarna uit om dit te kan doen by die Laailoufees saam met `n amazing line-up!”
“Ek en my band sien verskriklik daarna uit om by die Laailoufees in die Paarl op te tree!’ vertel Karlien van Jaarsveld. “Ek dink nie ek het al ooit gesing waar mense vir my gekyk het terwyl hulle in laailou’s lê! So ja, ons sien baie uit!”
Corné Pretorius het bekendheid verwerf vir die een radiotreffer na die ander oor die afgelope twee jaar: “Ek gaan al die bekende liedjies soos Halfvol, Ek Wil Glo, Liefde is `n Werkwoord, Vuur en Vlam, Biertjies, asook `n paar nuwe tunes speel. Dit gaan vet pret wees!”
Die verhoog by die fees word so opgestel sodat dit toeskouers in die rivier op hul laailous sowel as toeskouers op hul kampstoele in die kampeer-feesterrein bedien. Die Bergrivieroord het pragtige staanplek vir tente asook luukse staanplek vir karavane.
Bring jou laailou, bring jou kampstoel! Kom saam vir `n heerlike dag se musiek en kuier!
Kaartjies kos R260 by https://itickets.co.za/events/467083
Gratis vir kinders 7 jaar en jonger. Hope kindervermaak, eetgoed en ‘n reuse biertuin.
Program
09h00 – Feesterrein open en kosbediening begin.
11h00 – Biertuin open
12h00 – Tasché
13h00 – Loki en Margot Rothman
14h00 – Janie Bay
15h15 – Ampie
16h30 – Karlien van Jaarsveld
17h45 – Corné Pretorius
Vir al die fees besonderhede en die feesprogram gaan na www.laailoufees.co.za