Saad kan in bakke of beddings gesaai word en later uitgeplant word, of direk waar die plant benodig word. Dit is beter om saad in bakke of ander geskikte houers te saai omdat jy dan kan sorg vir the beste toestande vir optimum ontkieming.
‘n Geskikte houer in sterk, nie vlakker as 100mm nie, met genoeg dreineringsgate. ’n Mengsel van twee dele skoon sand, een deel leemgrond en een deel goed verrotte kompos is geskik. Dit hoef nie gesif te word nie, maar groot kluite, klippe, stukke bas, ens. moet verwyder word. Die grondmengsel moet maklik dreineer. Indien nodig kan ekstra sand bygevoeg word.
Maak die bakke driekwart vol en stamp die bodem ’n paar keer liggies teen ’n ferm oppervlak om die grond te laat insak. Maak liggies gelyk met ’n stuk hout. Toets die dreinering deur die grond deurnat te maak. Die water behoort vinnig te dreineer om die grond oral ewe klam te laat.
Die saad kan in vlak rytjies gesaai word of eweredig oor die hele oppervlakte gestrooi word. Moenie te dig saai nie want saailinge wat verdruk word kry makliker siektes. Bedek die saad met ’n lagie fyn sand, fyn bas of gesifte grondmengsel, nie meer as 1 tot 1,5 keer die deursnee van die sade nie.
Plaas die bakke op ’n gelyk oppervlak waar oortollige water kan wegdreineer. Dis raadsaam om die saad te beskerm deur ’n glasplaat of glasveselplaat bo-oor te plaas, of om die bakke in ’n glashuis te hou. As die bakke in die son is moet skadu voorsien word totdat ontkieming voltooi is. Skadu-doek, koerante of sakmateriaal kan bo-oor die glasdeksel geplaas word.
Besproei die bakke met ’n fyn sagte sproeikop. Groot druppels of sterk waterdruk sal die sade uitwas en die saailinge dood. Die grondmengsel moet nooit uitdroog nie, maar te veel water is ook nadelig. Sodra die saailinge verskyn kan die bakke minder besproei word en die grond kan toegelaat word om droog te word voor die volgende besproeiing.
Sodra die eerste paar regte blare verskyn het en die saailinge groot en sterk genoeg is om te hanteer, kan hulle uitgeplant word. Verwyder hulle versigtig deur ’n klein gedeelte met grond en al uit te lig of los te sny, en maak die worteltjies saggies los. Wortelbeskadiging moet vermy word, en saailinge moet nooit uitgetrek word nie omdat dit die jong wortels beskadig. Die plantjies kan in houers of in die grond uitgeplant word en moet beskut word totdat hulle goed gevestig is.
Die grond waarin hulle uitgeplant gaan word moet vooraf goed bemes word met beenmeel of superfosfaat, sowel as genoeg kompos. Hou die plantjies klam, veral gedurende die eerste jaar. ’n Deklaag van growwe plantmateriaal kan oor die grond gesprei word om die grondvog te behou en die wortels koel te hou.
Lewer kommentaar