Honda help diere in nood

Die Kragprodukte-Afdeling van Honda Suid-Afrika het ingestem om die Nasionale Dierebeskermings-Vereniging (NDBV) te help met die versorging van ‘n besending reptiele wat vroeër vandeesmaand by die OR Tambo Internasionale Lughawe agtergelaat is. Honda het ‘n kragopwekker geskenk om noodsaaklike hitte en beligting aan die reptiele te verskaf wat tydelik by die Johannesburgse Dieretuin versorg word. Dié dieretuin is ‘n geregistreerde kwaratynfasiliteit. Volgens die NDBV se Wildeenheid-bestuurder, Brenda Santon, was die besending reptiele op pad van Madagaskar na die Tsjeggiese Republiek toe dit by die lughawe agtergelaat is. Die NDBV en die Kemptonparkse DBV het daarna op die besending beslag gelê. Die besending reptiele het uit verskillende spesies geitjies, akkedisse, verkleurmannetjies, slange en atropodes bestaan. Na ‘n reeks kragonderbrekings het die veearts van die Johannesburgse Dieretuin ‘n dringende versoek vir ‘n kragopwekker aan die NDBV gerig sodat genoeg hitte en lig aan die reptiele verskaf kan word. Die NDBV het op sy beurt Honda SA om hulp genader. “Honda SA is verheug dat ons die nodige bystand aan die NDBV kon verleen, en sodoende die vereniging kon help om na die arme reptiele om te sien,” het die maatskappy se Algemene Bestuurder van Verkope en Bemarking, Graham Eagle, gesê. “Met kragonderbrekings wat nou alledaags raak, word die gebruik van kragopwekkers vir noodsaaklike take soos hierdie toenemend onontbeerlik,” het hy bygevoeg. Op haar beurt het Me. Santon gesê die NDBV is dankbaar vir die grootmoedige ondersteuning van Honda SA en die positiewe reaksie van die maatskappy op die vereniging se versoek om hulp. “Die opwekker sal nie net vir die onmiddellike behoeftes van die reptiele aangewend word nie, maar sal ook baie handig te pas kom by ander projekte van die NDBV. Daaronder tel uitreikprogramme in behoeftige dele van die land.” Die honderde reptiele was in drie verskepingshouers ingeprop, en terwyl ‘n groot getal nie oorleef het nie, gaan dit na berig word goed met die oorblywende diere. Die NDBV onderhandel tans vir die terugkeer van die reptiele na Madagaskar, en het ‘n beroep op die publiek gedoen om te help met die befondsing van hul sorg by die dieretuin, en hul uiteindelike terugkeer na Madagaskar.

Lewer kommentaar

Leave a Reply