Vanaf 13 tot 18 Oktober word die populêre Kander & Ebb musiekblyspel, Cabaret, deur die Stellenbosch Drama Departement aangebied in die HB Thom Teater.
Marthinus Basson hanteer die regie. Hierdie musiekblyspel, gesetel in Berlyn net voor die Nazi’s aan bewind kom in Duitsland in 1931, word beskryf as ‘n “onaangename storie oor nie baie aangename mense nie.” Ten spyte van sy ongewone materiaal is Cabaret een van die mees geliefde en suksesvolle musiekblyspele in die wêreld.
Cabaret het sy oorsprong in die eerstehandse ervarings van die Britse skrywer Christopher Isherwood soos verwoord in sy The Berlin Stories. Isherwood gaan na Berlyn om te ontsnap van sy Engelse post-Victoriaanse middelstand lewe in Engeland om kop-eerste in te duik in die desperate dekadensie van Berlyn tussen die twee Wêreldoorloë, waar die sedes los was en geld minder werd as ‘n Zim Dollar. Hier ontdek hy sy ware stem as skrywer deur, soos ‘n klikkende kamera, kil en afstandelik, die afwenteling van die glans en verdoemenis van die laaste dae van die Weimar Republiek aan te teken. In sy The Berlin Stories laat hy ons ‘n aangrypende rekord van die klein lewens van ‘n groepie kennisse wat saam met die artistieke ontploffing en laks moraliteit wat die tydperk kenmerk, weggeswiep sou word deur die misplaaste nasionalisme van die Nazi’s, Fascisme en die vernietiging van die Tweede Wêreldoorlog.
Cabaret is vol kleurvolle karakters: ‘n naïwe aspirant-aktrise, ‘n smokkelaar met politieke ambisies, ‘n verarmde losieshuis tante, ‘n prostituut met ‘n warm lyn matrose wat kom en gaan, nagklub-kunstenaars van alle oortuigings en die smertsigste seremoniemeester. Selfs ‘n gorilla in ‘n rok.
Die musiek is ‘n heerlike vermenging van Duitse Sentiment en Oompah aangejaag deur die verwikkelde ritmes van vroeë Jazz.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
