Bloemfontein hou nou Vryfees

Nadat die Volksblad-kunstefees verlede jaar sy 10-jarige bestaan as een van Suid-Afrika se voorste kunstefeeste gevier het, is besluit om die volgende stap na ‘n opwindende toekoms vir die fees te neem deur dit sy eie identiteit te gee.

Die twee stigtersvennote van die Volksblad-kunstefees, Volksblad en Kovsies, hou nou Vryfees.

Mnr. Ainsley Moos, redakteur van Volksblad en voorsitter van die bestuurskomitee van die Volksblad-kunstefees, sê die naamverandering gebeur uit erkenning vir ander vennote saam met wie die koerantgroep reeds ‘n dekade lank die fees aanbied. Die belangrikste van diè vennote is die Universiteit van die Vrystaat (UV).

“Van Volksblad se kant erken ons die rol en bydrae wat ons vennote speel. Terselfdertyd bied die verandering ‘n geleentheid vir ons om te besin oor die toekomstige rigting wat die fees graag wil inslaan.”

Prof. Jonathan Jansen, rektor van die UV, sê as twee prominente instansies in die sentrale streek, besef die UV en die bestuur van die kunstefees die noodsaaklikheid daarvan om relevant te wees.

“’Ook die UV se beeld is aangepas en ons slaag steeds daarin om ons uitnemendheid en uitsonderlikheid te behou,” sê Jansen.

Me. Adri Herbert, organiseerder van die Vryfees, sê die vetter feesprogram vanjaar weerspieël die selfvertroue waarmee die Vryfees die lojaliteit van sy getroue ondersteuners inwag.

Vryfees“Om Vryfees te wees, skep ook potensieel nuwe geleenthede vir die kunstefees en bied wat die naam beloof: vryheid om strategies te droom, te groei en na uitnemendheid te streef.”

“Altesaam 225 aanbiedings en 400 kunstenaars vorm vanjaar deel van die omvattende feesprogram, wat toneel, komedie, musiekteater, kontemporêre musiek, kinderteater, visuele kuns, boeke en flieks insluit. Vyftien teaterproduksies debuteer vanjaar op die fees,” sê Herbert.

Die eerste keer in die fees se geskiedenis is daar ‘n straatteateterprogram op die feesterrein met die naam Eye-dentity, aangebied deur Kovsies. Die fliekprogram is groter met rolprente uit die Nasionale Film-en-video-argief, kortfilms van die Kaapse Wynland-filmfees en kunsfilms.

Die gewilde argitektuurtoere is terug, aangebied deur die Vrystaatse Instituut van Argitekte, en die boeke-ontbyt met kos van Oudekraal en moontlik gemaak deur Van Rensburg-patoloë, beloof uitnemendheid.

Ontmoet ook Italiaanse talent met die Luca Ciarla-klassieke aanbieding, tot die beste uit Vrystaatse bodem met toneelstukke soos Die Renosters en ‘n Lewe in die teater met onderskeidelik Nico Luwes en Gerben Kamper.

Bring saam met Absa, Kloppers en Volksblad hulde aan Lucas Maree wanneer 18 van die land se gewildste kunstenaars, soos Steve Hofmeyr en Anton Goosen, hul sangvriend groet.

Steeds is Vryfees die enigste fees waar die luuksheid van teaters geniet word: besoek die Absa-Sand du Plessis-teater, die Mango-André Huguenet-teater, kykNET se Scaena, die nuut opgeknapte ATKV-Wynand Mouton-teater, die Eunice-teater en die OFM-Albert Wessels-ouditorium. En moenie die unieke ervaring van die Aasvoëlklub vergeet nie.

Lewer kommentaar

Leave a Reply