Daleen Kruger wen die 2009 Nagtegaal teksprys

Die keurpaneel van die Nasionale Nagtegaal Tekspryskompetisie 2009 (Denise Newman, Hennie van Greunen, professor Nico Luwes, Juanita Swanepoel, professor Dorothea van Zyl en Brett Pyper) se hartlike gelukwensing gaan hiermee aan Daleen Kruger met haar dramastuk, Draadwerk.

Die twee naaswenners van ewe hoogstaande gehalte is Kaptein Geluk deur Wikus du Toit en Self deur Leon Kruger.

Oor die wenstuk Draadwerk was die paneel dit eens dat die teks op briljante wyse die leser uit ‘n vars hoek laat kyk na die kwessie van kuns en kunstenaarskap.

Aan die hand van die verhouding tussen Helen Martins en Koos Malgas, word die wroeging en besieling van beide hierdie kunstenaars en hul onderskeie interpretasies van die werklikheid om hulle met die fyn kwas van ‘n mede-kunstenaar geskilder.

Daleen Kruger sê self oor haar drama Draadwerk: “Dit voel vir my soos die beeldhou van woorde”.

Sy het in Nieu-Betesda tussen die mense gaan bly om die praktiese sy van haar navorsing oor die verhouding tussen Helen en Koos vir die verhoog te vorm. Die aangrypende stuk getuig van ‘n uiters sensitiewe omgang met buitestaanderkuns en die inwoners van die uilehuis.

Daleen Kruger is ‘n oud-Puk wat haar in sosiale wetenskappe bekwaam het. Sy is ‘n ywerige fotograaf, skilder en beeldhouer. Sy woon tans in Yzerfontein waar sy haar eie keramiekateljee bedryf, Whale Tales Studio.

Haar eerste betrokkenheid by letterkunde was toe sy as student begin dig het. Draadwerk is haar derde drama. Haar vorige twee dramas het ook nie ongemerk verbygeglip nie.

Die Maket in 2006 was haar debuut in drama as genre en sy haal daarmee die kortlys in die Sanlam Dramateks-kompetisie.

In 2008 volg Jonas waarmee sy eindig as finalis in die Nagtegaal Teksprys-kompetisie en nou in 2009, stap sy met die Nagtegaal Dramateks-toekenning weg.

Sy is ‘n waardige wenner van die Nagtegaal Teksprys.

Lewer kommentaar

Leave a Reply