Fiëstas vereer drie legendes vir hul lewensbydrae

By vanjaar se Fiëstas word daar weer erkenning gegee aan drie veterane vir hul bydrae tot die vermaakbedryf in Suid-Afrika.


Lida Botha word vir haar werk in die teater vereer, maar dié veteraan-aktrise het in haar loopbaan van bykans 50 jaar haar talent op TV en op film gedeel.

Botha is in Namakwaland gebore en het in 1953 aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl gematrikuleer. Sy het daarna onderwys aan die Universiteit van Kaapstad asook drama by Babs Laker se Akademie vir Dramakuns studeer.

Botha het daarna vir twee jaar in Engeland gewoon, teruggekom na Suid-Afrika, vir ‘n wyle skool gehou en toe by ‘n klooster in Engeland aangesluit. Terug in Suid-Afrika was sy ‘n non op Kuruman en het daarna in Bloemfontein gaan skoolhou. Sy het haar man, die akteur Johan Botha, ontmoet toe hy deel van die Sukovs-toneelgeselskap was. Sy is op 35-jarige ouderdom met hom getroud en toe hy as hoof van Swaruk in die destydse Suidwes-Afrika aangestel is, het sy begin toneelspeel.

Van haar eerste werk was die toneelstukke Die Van Aardes van Grootoor, Info Scandals, Karnaval en My Seuns. Later was sy ook in stukke soos Straties, Vrededorp, Faan se Stasie en Ouma en Oupa Sit op die Stoep.

Botha het in verskeie TV-reekse gespeel waaronder Nommer Asseblief, Arende, Meester, Meeulanders, Manakwalanders, Orion, Vallei van die Sluiers en Donkerland.

Op die silwerdoek was sy te sien in rolprente soos Fiela se Kind, Die Storie van Klara Viljee, Invictus, Roepman, Hoofmeisie en Pad na Jou Hart.

Ronnie Samaai ontvang die toekenning vir sy bydrae tot musiek. Samaai, wat sedert 2002 op die direksie van die Kaapse Filharmoniese Orkesraad dien, is dekades reeds ‘n onderwyser en mentor vir musikante.

Hy het ‘n BMus-graad aan Unisa behaal, maar het ook lisensiate aan die Royal Schools of Music en Trinity College verwerf. Dit was juis toe hy verder by Trinity College met ‘n beurs van die Britse Raad studeer het, wat hy besluit het om sy talent in Suid-Afrika te kom terugploeg.

Hy was vir meer as 40 jaar ‘n musiekonderwyser en het in 1996 as vise-rektor by die Bellville Onderwyskollege afgetree. Samaai was op die keuringspaneel vir die Kaapse Filharmoniese Orkes en het ‘n groot rol gespeel in die totstandkoming van die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes.

Hy is steeds ‘n vioolonderwyser en is die projekleier van die Wes-Kaapse Redefine-gemeenskapsmusiekprojek wat musiekonderig aan meer as 100 kinders uit Kuilsrivier en Khayelitsha bied.

Pieter Fourie word vereer vir sy bydrae tot woordkuns. Met dramas soos Faan se Trein, Faan se Stasie, Mooi Maria, Ek, Anna van Wyk en Die Koggelaar op sy kerfstok, is Fourie sonder twyfel een van Suid-Afrika se grootste dramaturge.

Fourie is op Philippolis in die Vrystaat gebore en het ná skool ‘n honneursgraad in Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy het in 1964 die rondreisende teatergeselskap Pieter Fourie Genootskap begin met werk wat hy self geskryf en geregisseer het.

In 1967 is hy aangestel as die artistieke hoof van Afrikaanse drama by Kruik en in 1983 het hy die inwonende dramaturg geword. Hy word in 1997 een van die stigters van die KKNK, maar in 1999 bedank hy as hoof van die fees om weer op sy eie werk te fokus.

Fourie was in 2003 die ontvanger van die Hertzog-prys en in 2011 is ‘n ere-doktorsgraad adeur die Universiteit van die Vrystaat aan hom toegeken.

Die toekennings word op 18 Februarie tydens ‘n glansgeleentheid by die Staatsteater in Pretoria oorhandig. Die geleentheid word regstreeks om 20:00 op kykNET (Kanaal 144) uitgesaai.

fiestas
fiestas

Lewer kommentaar

Leave a Reply