Het jy ‘n wenvoorstel vir ‘n nuwe Afrikaanse toneelstuk? Die Absa KKNK, met die ondersteuning van die Dagbreek Trust, is op soek na opkomende en gevestigde skrywers – wat nog nooit van te vore toneelstukke geskryf het nie – se oorspronklike en kreatiewe voorstelle wat tot opwindende en aangrypende teater kan lei.
Die skrywer van die wenvoorstel ontvang R50 000 en die geleentheid om die voorstel te ontwikkel onder die mentorskap van ervare dramaturge en regisseurs, waarna dit by die Absa KKNK sal debuteer.
Die teksontwikkelingsprojek bied nie net ‘n platform vir skrywers om hul teater drome te verwesenlik nie, maar wil stem gee aan nuwe Afrikaanse dramaturge.
Hierdie projek word vanjaar vir die derde keer aangebied. Die skrywer-joernalis, Willemien Brümmer, was die eerste wenner wie se produksie, Braai, by die afgelope Absa KKNK te sien was met onder andere Gys de Villiers, Esther von Waltsleben en Leon Kruger in die rolverdeling. Dié produksie is met twee Kanna’s benoem. Alma Nel, dramastudent aan die Universiteit van Stellenbosch, se teks Vat aan my, wat die onthutsende realiteite van ‘n jonger generasie ondersoek, is die tweede voorstel wat deur hierdie projek ontwikkel word. Die bekroonde skrywer, Rachelle Greef, wie se nuutste drama, Rondomskrik, feesgangers aangegryp het by die pas afgelope Absa KKNK, is die mentor van Nel se teks.
Daar is geen inskrywingsfooi of beperking op die aantal voorstelle per deelnemer nie. Stuur ‘n e-pos na die Absa KKNk se programbestuurder, Theo Kemp, by tkemp@kknk.co.za vir die volledige projekriglyne. Hierdie dokument kan ook afgelaai word vanaf die Absa KKNK se webblad http://kknk.co.za/