Die Kaapstadse Stadsballet, wat tans repeteer vir hul Julie seisoen by die Kunstekaap Teater, het onlangs aangekondig dat van hul dansers bevorder is.
Die dansers wat bevordering ontvang het is (van links na regs op die onderste foto): Elizabeth Nienaber, Bradley van Heerden, Kim Vieira, Daniel Szybkowski, Laura Bösenberg, Angela Hansford, Rosamund Ford en Thomas Thorne.
Die voormalige hoofdansers Laura Bösenberg, Thomas Thorne en Kim Vieira is bevorder tot senior hoofdansers. Angela Hansford is bevorder tot hoofdanser, terwyl Daniel Szybkowski nou ‘n senior solis is. Elizabeth Nienaber en Rosamund Ford is bevorder tot soliste en Bradley van Heerden tot senior kunstenaar.
Laura Bösenberg (senior hoofdanser), wat goed bekend is onder Kaapse gehore, het reeds legio hoofrolle in die KSB se produksies gedans. Haar mees onlangse optredes was as Odette/Odile in Swanemeer en Prinses Aurora in Die Slapende Skoonheid. Sy is sedert 2004 lid van die KSB en is sedert 2009 ‘n hoofdanser in die geselskap.
Thomas Thorne (senior hoofdanser) kom oorspronklik uit Groot-Brittanje. Hy dans reeds sedert 2008 by die KSB en het baie prominente rolle, o.a. Prins Siegfried in Swanemeer, Prins Florimund in Die Slapende Skoonheid en Albrecht in Giselle, vir die geselskap vertolk.
Kim Vieira (senior hoofdanser) was lid van die Staatsteater Ballet voordat sy haar by die Nederlandse Nasionale Ballet in Amsterdam aangesluit het. Sy is sedert 2010 lid van die KSB. Sy het onlangs uitgeblink as die Vuurvoël in Die Vuurvoël, die Blouvoël in Die Slapende Skoonheid, Odile in Swanemeer.
Angela Hansford (hoofdanser) het onder leiding van Gwen Mary Wells in Port Elizabeth ballet studeer. Sy het gehore reeds betower met haar interpretasie van Odette in Swanemeer. Ander rolle op haar kerfstok sluit die Lilafee en Prinses Aurora (Die Slapende Skoonheid), Mercedes en Michaela (Carmen) en die Sneeukoningin (Die Neutekraker) in.
Daniel Szybkowski (senior solis) het aan die Central School of Ballet (London) en Royal Swedish Ballet School studeer. Hy was lid van die Vanemuine Ballet Company (Estonia) voordat hy in 2011 lid van die KSB geword het. In Kaapstad het hy o.a. die rolle van Franz (Coppelia), Cole Porter (Night and Day), Albrecht (Giselle) en Armand (Camille) vertolk.
Elizabeth Nienaber (solis), oorspronklik van Gauteng, het in 2010 by die KSB aangesluit. Sy het haar flair vir komiese rolle reeds in verskeie produksies bewys. Sy is ‘n voormalige lid van die South African Ballet Theatre en Ballet Theatre Afrika en het ook opleiding ontvang by Royal Swedish Ballet School en Royal Ballet School in London. Haar optredes by die KSB sluit o.a. Die Papierpop (The Tin Soldier), Clara (Die Neutekraker) en Wendy (Peter Pan en die Verlore Seuns) in.
Rosamund Ford (solis) het haar opleiding by die Royal Ballet School in London ontvang. Sy was lid van die Vanemuine Theatre Ballet Company (Estonia) voordat sy in 2011 lid van die KSB geword het. In 2013 het sy die gesogte toekenning vir die mees belowende opkomende danser in die geselskap ontvang. Kaapse gehore het haar optredes reeds in verskeie rolle geniet, o.a. as die Sneeukoninging (Die Neutekraker) en Columbine in The Tin Soldier.
Bradley van Heerden (senior kunstenaar) is deur Gwen Mary Wells in Port Elizabeth opgelei, waarna hy in 2009 ingeskryf het by die UK Dansskool. In 2010 is hy opgeneem in die KSB se corps de ballet. Hy het onlangs die rol van Kostchei in Die Vuurvoël by die Maynardville Opelugteater vertolk, asook die rol van O’Malley in The Tin Soldier.
Bogenoemde dansers sal almal in die Kaapstadse Stadsballet se produksie Ballet Beautiful te siene wees. Dit vorm deel van die geselskap se 80ste Herdenkingsvieringe wat vanjaar plaasvind. Die seisoen duur van 4-12 Julie en kaartjies teen R175 en R150 kan bespreek word by COMPUTICKET (tel. 0861 915 8000) of Kunstekaap Bel-‘n-Sitplek by 021 421 7695.
Opvoertye vir Ballet Beautiful in die Kunstekaap Teater
Vry 4 Julie om 19h30
Sat 5 Julie om 14h00 en 19h30
Son 6 Julie om 15h00
Vry 11 Julie om 19h30
Sat 12 Julie om 14h00 en 19h30
(foto: Pat-Bromilow-Downing)