Oudtshoorn gee my altyd ‘n eerste gedagte as ek die dorp binnekom tydens die KKNK, gewoonlik ‘n deuntjie of vers. Dit het nie noodwendig iets met die fees te doen nie. Vanjaar was geen uitsondering na die rekord 5½ uur trek vanaf Kaapstad nie. Ek het sonder rede daardie ou barok gunsteling van Bach begin fluit, “Sheep may safely braai”.
My eerste skok was die min versiering. Ek was twee dae voor die fees op die dorp, maar steeds verwag mens nie om te bloos vir kaal lamppale nie. Dit het gelyk soos enige ander tyd van die jaar. Amper soos die eerste fees.
Ek sou later terugdink saam met Gert Heyns, ‘n ervare feeshand, aan 15 jaar gelede se eerste fees. Ons eerste feesstuk, Charles J. Fourie se Braaivleis, Pieter-Dirk Uys in die burgersentrum, Laurika Rauch op Kaktus op die Vlaktes voor enkele siele wat nie bang was vir reën nie. Hoe dinge verander het sedert Miriam Makeba met blikke gegooi is. Die klipgooiers is darem nou meer gekultiveerd. Deesdae word Ray Dylan met ys en bottels gegooi.
Die goeie ou Kaktus. Daar waar oorle Johannes Kerkorrel nog van die verhoog af kon flikflooi by ‘n man in ‘n koeipak, waar mens jou hande kon opsit vir Brasse Vannie Kaap en waarlik rock in Afrikaans. Dit was voor goed ingelegde boerjongens en kotsende donsdosies dit vir almal vergal het.
Die plaas en ander tente het egter vanjaar by tye baie verlate gelyk. Die ekonomie druk so dat feesgangers in Die Burger-tent gerantsoeneer is met toiletpapier. Mense se geld is min, en soos die 2009 KKNK gewys het, van min geld is die teaters vol en die tente leeg. Daar ‘n nuwe wind wat waai in die geweste, een wat kuns se seile laat bol.
Die KKNK-bestuur het die fees vanjaar gestuur in ‘n rigting met wonderlike moontlikhede. ‘n Rigting wat hierdie Afrikaanse fees deel maak van ‘n internasionale kunsgemeenskap, sonder om die verantwoordelikheid teenoor ander Suid-Afrikaners en die omgewing uit die oog te verloor.
Ons is vanjaar waarlik betower in die Karoo. By die mediabekendstelling by Moooi by Jamstreet was ek met die intrapslag reeds beïndruk. Moooi was waarlik soos die naam suggereer en ek kon nie aan ‘n beter plek dink om ‘n kunstefees te begin nie. Ook nie aan ‘n beter stuk as die Nederlandse regisseur David Geysen se Ararat nie. Met die Klein Karoo-landskap as verhoog lei Ararat jou op ‘n pad van konfrontasie met jouself. Dit bevraagteken dit waarin ons glo. ‘n Aanskoulike stuk teater en ‘n storie van liefde, drome, wellus en nietigheid. Dit begin met sonsondergang in ‘n volstruiskamp waar ons op hooibale sitgemaak is. Uit die verte kom ‘n opsigtelike sauve figuur in ‘n swart pak aangestap. Dis die duiwel.
David Johnson was die coolste duiwel wat ek in ‘n lang tyd gesien het. Die res van Ararat se rolverdeling het hul ewe goed van hul taak gekwyt. Ek sou so ver gaan as om vir Nicola Hanekom aan te wys as die fees se beste vroulike kunstenaar.
Miskien sorg Ararat dat ons weer produksies sal sien soos Trek (2006) en Stoot (2007).
‘n Tsjeggiese dansgeselskap met Ontbloting van die vroulike siel was my volgende stop. Ek was ietwat senuagtig. Dit was die eerste volwasse produksie wat my dogter sou bywoon op Oudtshoorn. Sou sy vandag reeds begin kla oor dit wat die res van die week vir haar voorlê? Boonop was feeshand Gert in die gehoor en hierdie was een van die stukke wat ek voorgestel het. Die Tsjeggiese meisie het egter nie teleurgestel nie. Die dansers se direkte kommunikasie met die gehoor was vir my iets nuuts. Ek is nie juis bevoeg om hul danstegnieke te beoordeel nie, maar die meisies se fisieke vermoëns alleen was bewonderingswaardig.
Sakrament het my gespanne gelaat. Willem Anker het sy teks op ons neergebliksem. By tye wil dit voorkom asof hy meegevoer is en nie kon ophou skryf nie. Die stuk laat jou egter nie onaangeraak nie en jy kan dit nie as swak afmaak nie. Dit was opvallend hoe eietydse kwessies op hierdie wyse aangespreek is by vanjaar se fees. Ek het die woord “neerdrukkend” by meer as een resensent gelees. Persoonlik loop ek draaie om swaarmoedigheid, wat in die Afrikaanse leefwêreld gereeld met erns verwar word. Ek leef in ewige vrees vir ‘n terugkeer na die swaarmoedige Afrikaanse TV-dramas van weleer met die semi-godsdienstige tekste en die lang stiltes.
Oudergewoonte het ek ‘n kaartjie gehad vir die Stok-poduksie, Alles op ‘n stok. Ek begin al wonder of daar eendag ‘n swak Stok gaan wees. Leon Ecroignard en Jahn Beukes is die keer bygestaan deur Antony Coleman, Nic Huddy en Riku Lätti. Laasgenoemde het effens ontuis gelyk op die verhoog. Die regie was deur Ilse van Hemert.
My top produksie van die fees: Ballade van Koos Sas. Wat my betref moes die Kanna vir beste manlike kunstenaar aan Jody Abrahams gegaan het. Beide hy en Loukmaan Adams is genomineer
vir die toekenning saam met Chris Chameleon. Natalie Cervati het ook haar nominasie verdien vir beste opkomende kunstenaar en so ook David Kramer vir sy regie. Die produksie is ook genomineer vir beste aanbieding by die fees. Om die waarheid te sê, Ballade van Koos Sas het die meeste nominasies ontvang, maar geen toekennings.
Die KKNK mis steeds ‘n ordentlike rock venue. Die MK89-verhoog met sy klein aanbod was vanjaar verban tot die buitewyke van Oudtshoorn.
Hierdie jaar se fees sal ek ook onthou vir die talle probleme wat oral opgeduik het. Vir die eerste keer ooit moes ek by ‘n KKNK-vertoning opdaag, net om te hoor dat dit gekanselleer is. Ander probleme waaroor die publiek gekla het was foute in die feesprogram, klankprobleme en venues wat verskuif is. Nie al die probleme kan voor die deur van die feesorganiseerders gelê word nie, en ek dink ons sal sommer ‘n herhaling hiervan in die toekoms sien nie.
Die organiseerders het ‘n gesprek oor informele verhoë gereël, wat ek ongelukkig nie kon bywoon nie, maar dit is iets wat beslis aandag moet kry. Die faktore wat by die keuses vir die verhoë in ag geneem word is artisitieke meriete, gehalte en genre-balans. Ek het begrip daarvoor dat daar vir ‘n verskeidenheid van smake voorsiening gemaak word. Ek sou net graag wou weet hoe ‘n jong dame, wat oor haar gewone CD sing en boonop nou en dan stilbly as sy bietjie moeg is, toegelaat word om op enige verhoog op te tree. Dit maak van elke karaoki-sanger ‘n “kunstenaar”. Sies!
Sekuriteit by vanjaar se fees was uitstekend. Veiligheidswagte en die polisie was te voet, op fietse, in voertuie en op perde op elke hoek en draai.
Suzanne Duncan het haar eie hare gebruik om doilies te maak. Hierdie doilies het sy in twee rame geplaas. Die onnatuurlike vorm wat die hare in hierdie werk aanneem is beduidend van hoe ons ons
liggame voortdurend probeer aanpas tot op ‘n punt waar dit heel verwronge is.
Lee-At Meyerov se Body of Silence het bestaan uit honderde gedroogde appelskille in
verskillende stadiums van ontbinding. Die vlesige en lyflike karaktertrekke van die verharde
skille was onthutsend. Die parallelle wat Meyerov trek tussen die menslike liggaam en die appel is briljant.
2009 se KKNK was beslis inspirasie om vir ‘n slag te kan sê “Ek is volgende jaar weer daar.”
(foto’s: Quintus van Rensburg & Nasha van Rensburg)