Wanneer ‘n mens woorde soos sanger, koskenner, akteur, liedjieskrywer, sinkstoor, langtafel en myndorp bymekaar gooi is die antwoord Willie Strauss.

Willie doen vryskutwerk sedert hy klaar studeer het. Hy is betrokke by verskillende fasette van die vermaaklikheidsbedryf. Hy tree dikwels landswyd op as beoordelaar en is die beskermheer van twee Eisteddfods.

Fiesta, Bravo, Erfkos, Glitterati, Geraas en meer onlangs Boere-Diva en DeKat TV is van die programme waarop hy al ‘n gas was. Hy was die mede aanbieder van Kos is oppie Tafel op ASTV.

Willie Strauss is wel meer bekend vir sy kuier op RSG, eers saam met Amore Bekker en nou Eloise Cupido, elke tweede Maandagoggend. Hier kleur hy elke luisteraar se wêreld in met kos en sorg ook dalk jy lekker lag.

“Om kos te maak is vir my soos om ‘n brief te lees van iemand wat jy lanklaas van gehoor het. Die opwinding van die wit Croxley-koevert in jou hand is die nuwe resep wat jy eenvoudig net moet toets; die lees van die brief van die wit lyntjiespapier is die voorbereiding van die kos.”

Sy kookboek Daar is ‘n Engel in die koskas het baie aandag geniet en is steeds beskikbaar by sy aanlyn winkel. Die kookboek is nie net ‘n resepte boek nie, dis ‘n storie oor kos en ver meer gepas vir die koffietafel as die kombuis rak.

Baie lekker langtafel etes en huismarkte is al aangebied by sy Sinkhuis maar deesdae kuier vriende, kennisse en aanhangers elke laaste Sondag van die maand by sy Sinkstoor op dieselfde perseel as die Sinkhuis.

“Dis nou makliker en meer toeganklik vir almal om saam met my te kan kuier en ook meer gereëld. Ek kook self vir elke Stoor-dag. Vanaf 10h00 tot 15h00 kuier ek saam met my gaste”.

Hier loop hoenders, eende en swane vrylik tussen die gaste rond.

Kos, Sing & Stories is ‘n samevatting van wie en wat Willie Strauss is. Hy is kos, hy is musiek maar hy is beslis vol stories. Die vertoning is ± 65min lank en word aangebied saam met sy begeleier Henry-John Williams op klavier.

Hy sing van sy eie liedjies (wat al nommer een posisies behaal het op radio), vertel en lees stories voor en deel ‘n wonderlike resep of twee om self by die huis te beproef en jou geliefdes te bederf.

Willie sing oor kos – kook oor die liefde – lag oor die mensdom en vertel oor die lewe net soos hy kan.

By Die Boer teater restaurant in Durbanville op 14 September

Kaartjies kos R130 en is beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com

Kos, Sing en Stories, 2023

Lewer kommentaar

Leave a Reply