Roekeloos
Liefhebbers van opera, klassieke musiek, romantici en diegene wat hulself boheems beskou, sal verheug wees om te weet dat een van Puccini se gewildste operas, La Bohème, vanaf 20 tot 27 Maart 2010 op die planke sal wees in die Suid-Afrikaanse Staatsteater in Pretoria en 11 tot 25 April 2010 in die Johannesburg Teater (voorheen bekend as die Johannesburg Stadsteater).
Hierdie seisoen van La Bohème is moontlik gemaak deur die ruim ondersteuning van die Nasionale Lotery Trust, wat onderneem het om Opera Africa se projekte en opera-ontwikkeling vir die volgende drie jaar finansieel te steun.
Die deurwinterde en welbekende sopraan Hanli Stapela maak haar debuutbuiging vir Opera Africa as die tragiese heldin Mimi. Teenoor haar sing die tenoor Stefan Louw die rol van Rudolfo, die arm digter wat halsoorkop verlief is op haar. Die opera-veteraan Rouel Beukes se ryk bas-baritontembre sal die teater vul in die dubbelrol van Benoit en Alcindoro, terwyl Otto Maidi sy verskyning sal maak as Coline, die filosoof, en Thabang Senekal sal die rol van Schaunard volstaan.
Opera Africa het ’n passie om nuwe plaaslike talent te ontdek en te ontwikkel en twee van Suid-Afrika se blinkste nuwe sterre kry ook ’n kans om op die verhoog te skitter. Kelebogile Boikanyo sal te sien wees in die rol van die wulpse Musetta en Aubrey Lodewyk as Marcello, die skilder.
Die vyfsterrolverdeling word verder gekomplimenteer deur ’n koor bestaande uit meer as 80 lede wat saamgestel is uit die Opera Africa Koor en die Universiteit van Pretoria se Jakaranda Kinderkoor.
Die uitsonderlike jong Amerikaanse dirigent, Timothy Myers, gaan die Johannesburg Filharmoniese Orkes lei vir die duur van die La Bohème-seisoen. Myers is ’n produk van maestro Lorin Maazel en is welbekend vir sy betrokkenheid by onder andere die New York Filharmoniese Orkes, die New York City Orchestra en die London BBC Orchestra.
Themi Venturas, met wie Opera Africa al vir ’n geruime tyd ’n suksesvolle vennootskap het, keer terug as regisseur. Die bekroonde Andrew Verster se ontwerpe belowe om soos oudergewoonte die verhoog te omskep in ’n skildery van dekor en kostuums. Hein de Villiers behartig die artistieke regie en Michael Broderick is verantwoordelik vir die beligtingsontwerp.
Opera Africa bied afslagpryse aan op kaartjies wat vroeg bespreek word. Besoek gerus die webblad van Computicket (www.computicket.com/web/event/puccini_s_la_boheme/54963803) of skakel 083 915 8000 om jou kaartjies vandag nog te bespreek.
Afslag vir skoliere, studente, pensioenarisse en blokbesprekings is ook beskikbaar. Dit is ook die ideale geleentheid vir maatskappye om hulle kliënte en kollegas in styl te trakteer.
Vir meer inligting kontak gerus Opera Africa by (011) 883 4189 of info@operaafrica.co.za of besoek die webblad www.operaafrica.co.za