Dit is lekkerlag voorstoepstories wat meesal handel oor die eienaardighede van ons dag-tot-dag bestaan – die omie wat net Escorts ry, die man wat sy hele lewe al lus na ´n paar krokodil leerstewels en die vrou wat nie die woord "nee" kan onthou nie.
Die songs wissel van jazz tot die Franse chanson, van klassieke kabaret tot eietydse musiek. Dit sluit materiaal in van o.a. Jacques Brel en Leonard Cohen.
Rika Vermeulen is die musikale regisseur. Sy is veral bekend vir haar werk saam met Nataniel en Daniele Pascal.
Op die 2001 Karoofees was Stoutgat Stories & Sad Songs, die voorloper van Nog Stoutgat Stories & Sad Songs, reeds uitverkoop voor die aanvang van die fees.
Erik de Waal begin sy landwye toer in die Paarl. Hy het gedurende die afgelope 4 jaar naam gemaak in Kanada en Suid-Afrika as ´n bobaas storieverteller en sanger. In Nog Stoutgat Stories & Sad Songs wys hy ´n ligter kant van sy werk. Nog Stoutgat Stories & Sad Songs is tonekrul vermaak vir almal wat al stout was en/of beplan om nog baie stout te wees.
De Waal word as ´n dramatiese kunstenaar erken in Suid-Afrika en in Noord-Amerika en is al beskryf as spellbinding en a storytelling master deur kritici in die media.
Die veelsydige akteur, skrywer, storieverteller en sanger is bekend vir die wyse waarop hy materiaal uit die vele Suid-Afrikaanse agtergonde vermeng om intense en opwindende teaterervarings te skep.
De Waal het ´n Honneursgraad in drama aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Sy verhoogwerk dek die klassieke en kontemporêre teaterkanons. Sy werk in kinderteater word hoog aangeskryf en hy het die JDD-toekenning vir kinderteatertekste verwerf. Sy loopbaan het ´n artistieke keerpunt bereik toe hy in 1999 uitgenooi is om deur Kanada te toer met die oorspronklike musikale storieteaterproduksie Angel.
Die produksie het ook ´n suksesvolle speelvak by die Baxter Teatersentrum en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees geniet. Sy produksies Ubulolo or the witch en Thandweni where the ghosts scream is elk aangewys as een van die top tien produksies by Kanadese Kunstefeeste in Montreal, Edmonton, Saskatoon en Vancouver.
In 2001 onderneem de Waal ´n Suid-Afrikaanse toer met die kabaret Stoutgat Stories & Sad Songs. Die kabaret word met groot sukses in Gauteng, die Noordelike Provinsie, Vrystaat en Weskaap opgevoer en hy volg die sukses van hierdie produksie op met Nog Stoutgat Stories & Sad Songs waarin hy nuwe en meer uitdagende materiaal aanpak.
In 2001 behaal De Waal nog ´n professionele mylpaal: die Noord-Amerikaanse vrystelling van sy eerste CD. Sy kundigheid en jarelange ervaring as storieverteller, dramatiese- en kinderteaterkunstenaar kom aangrypend bymekaar op Iqhawe and the lion and other magical tales from the calabash. Die CD sluit beide tradisionele en oorspronklike Suid-Afrikaanse stories in.
