André le Roux se vlymskerp, skreeusnaakse waarneming, wat in sy populêre rubriek in Sarie ´n tuiste vind, het al menige getroude paartjies laat dink: maar dis mos óns daai.
Nou is hierdie rubrieke verwerk as ´n musiekteaterproduksie deur Hennie van Greunen, ´n veelbekroonde storieverteller, wie se werk jaar na jaar vir uitverkoopte sale speel. Sy vorige produksies sluit treffers in soos Blougat, Lyf, Junkiedrome, Jong Dames Dinamiet, Die Laaste Aand, Café Boerlesque, Wydekloof, Pello en Anna se Engel.
Dan is daar twee feeshelde, wat laas in 2001 saam op die verhoog gesien is: Pedro Kruger en Sarah Theron. Pedro se reputasie as storieverteller, sanger, akteur, pianis en liedjieskrywer is al keer op keer bewys in produksies soos Blougat, Lyf, Junkiedrome, Pello en Anna se Engel. As spankaptein op kykNet/M-Net se gewilde Liriekeraai is hy ook ´n ou bekende op die televisieskerm.
Sarah Theron het een van die mees indrukwekkende stemme wat tans in ons land optree. ´n Veteraan wat al meer as twee dekades in die vermaaklikheidsindustrie werk, het sy ook ´n draai gaan gooi by Egoli, en haar feestreffers Vurige Diva en Suiwer Sarah lê nog vlak in feesgangers se geheue.
Nou span Hennie, Pedro en Sarah saam om André se werk te herinterpreteer vir die verhoog. En hierdie realiteitssitkom gaan kook, want die waarheid sal uit: poligamie is wel ´n goeie idee. Mans haat dit as jong bokkies hulle “oom” begin noem. Mens moenie Viagra sluk ´n uur voor jou baas oorkom vir ete nie. ´n Brasiliaanse wax heet ook “die landingstrook”. Kommunikasie is nie altyd maklik nie. Vrouens bel te veel, mans praat te min. Op die vrou af is ´n vertoning waar mans en vrouens vingers na mekaar gaan wys, waar die musiek kook en die humor oorloop. Die vertoning het geopen by die 2004 Klein Karoo Nasionale Kunstefees vir uitverkoopte sale en staande ovasies en toer tans landwyd.