Prima ballerina Tracy Li weer op verhoog as Camille

Die beminde prima ballerina, Tracy Li, maak ‘n welkome terugkeer na die verhoog in die naamrol van Camille, wat van 2-12 Mei deur die Kaapse Stadsballet in Kunstekaap opgevoer word. Met die bekende musiek van Guiseppe Verdi se beroemde opera La Traviata, sal die dansgeselskap ondersteun word deur die Kaapse Filharmoniese Orkes onder leiding van Allan Stephenson.


Die vername Suid-Afrikaanse choreograaf, Veronica Paeper het Camille in 1990 geskep. Die ballet is gebasseer op Alexander Dumas se roman Die Dame met die Kamelias, en vertel die immergroen liefdesverhaal van Marguerite, ‘n courtisane, wat verlief raak op die jong Armand. Deur sy vader se inmenging word hul liefde gedoem.

Tracy Li, ‘n geliefde ballerina onder Kaapse gehore, dans die rol van Camille op 4 en 11 Mei. Li het in 2007 uitgetree as danser, maar by die Kaapse Stadsballet aangebly as instrukteur en administrateur. In 2012 is sy na Hong Kong genooi om werkswinkels aan te bied by die Christine Liao School of Ballet. Terwyl sy daar was het die solis vir hul produksie van Swanemeer onttrek en Tracy het op die laaste minuut vir haar ingestaan. Tot groot genot van haar bewonderaars is sy nou weer te sien as gaskunstenaar in Kaapstad.

Haar dansmaat in Camille, wat sy debuut maak as Armand, is die talentvolle jong Jesse Milligan. Hy het reeds lof ingeoes vir sy sprakelende energie en verhoogpersoonlikheid vir die Kaapse Stadsballet in Giselle, Night & Day en Die Neutekraker.
.
Vir die opvoerings op 2, 8 en 11 Mei sal die bekroonde Laura Bösenberg saam met die dinamiese Thomas Thorne die hoofrolle beset; terwyl die bekoorlike Kim Vieira en Daniel Szybkowski op 4, 10 en 12 Mei aan die beurt kom.

Monsieur Germont, Armand se vader, word vertolk deur die populêre Johnny Bovang. Hy was tot onlangs Suid-Afrika se voorste danseur noble en blink deesdae uit in karakterrolle.

Ses van die uitvoerings sal deur die Kaapse Filharmoniese Orkes begelei word, terwyl twee met ‘n klankbaan gedans sal word.

Tracy Li
Tracy Li

Besprekings vir Camille by die Kunstekaap Opera van 2-12 Mei 2013 kan gedoen word by COMPUTICKET of ARTSCAPE Dial-a-Seat by 021 421 7695. Kaartjiepryse wissel van R100 tot R280.

KONSESSIE:
Friends of Cape Town City Ballet (lidmaatskapnommer moet verskaf word) – R20 afslag op alle kaartjies (alle pryse en vertonings).

Rolbesetting:
Don 02/05/13 19h30 (met KFO) – Laura Bosenberg & Thomas Thorne
Sat 04/05/13 14h00 (met KFO) – Kim Vieira & Daniel Szybkowski
Sat 04/05/13 19h30 (met KFO) – Tracy Li & Jesse Milligan
Woe 08/05/13 19h30 (met KFO) – Laura Bosenberg & Thomas Thorne
Vry 10/05/13 19h30 (met klankbaan) – Kim Vieira & Daniel Szybkowski
Sat 11/05/13 14h00 (met KFO) – Tracy Li & Jesse Milligan
Sat 11/05/13 19h30 (met KFO) – Laura Bosenberg & Thomas Thorne
Son 12/05/13 15h00 (met klankbaan) – Kim Vieira & Daniel Szybkowski

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar