Rooikaart

Die bekende akteur Frank Opperman is terug op die verhoog met ‘n splinternuwe eenmanstuk Rooikaart.

Rooikaart is geskryf deur Dana Snyman, wat ook die baie suksesvolle Die uwe Pottie Potgieter geskryf het waarmee Opperman vir lank deur die land getoer het.

Na die sukses van Die uwe Pottie Potgieter verras Opperman se vermoë jou weereens wanneer hy ‘n splinternuwe verhoogkarakter skep in die gedaante van “Wally Koekemoer”.

Die karakter “Wally Koekemoer” laat jou deurgaans glimlag wanneer hy dinge kwyt raak wat jou onwillekeurig herinner aan iemand in die regte lewe!

Wally Koekemoer is die president van ‘n plaaslike rugbyklub. Die verhoogstuk speel af in die klubsaal waar die jaarlikse prysuitdeling van die rugbyklub plaasvind. Wally behartig die prysuitdeling en doen sy bes om alles bymekaar te hou, ten spyte van die probleem dat meeste van die spelers nie opgedaag het nie!

Wally het ook ‘n paar geraamtes in die kas, en dit kom mettertyd uit. Wally probeer op sy eie lomp manier sy aksies regverdig en in die proses val hy letterlik oor sy eie voete.

Die teks is skreeusnaaks en met Opperman se vertolking sal jy beslis met ‘n glimlag uit die teater stap.

Frank Opperman in Rooikaart
Frank Opperman in Rooikaart
Die regisseur is Gys de Villiers.

Rooikaart is 16 en 17 November by Die Boer in Durbanville.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar