Die legendariese Italiaanse filmvervaardiger Dino De Laurentiis is Woensdag oorlede by sy huis in Los Angeles. Hy was 91.
De Laurentiis het meer as 500 films op sy kerfstok gehad, insluitende twee Oscars. Beide toekennings was vir Federico Fellini se films, La Strada (1956) en Nights of Cabiria (1957).
Ander bekende films van Dino De Laurentiis was Roger Vadim se Barbarella (1968), Death Wish (1974), King Kong (1976), Flash Gordon (1980), Milos Forman se Ragtime (1981), Conan the Barbarian (1982), David Lynch se Dune (1984) en Blue Velvet (1986), U-571 (2000), Ridley Scott se Hannibal (2000), Red Dragon (2002) en Hannibal Rising (2006).
