Stuur groete aan Mannetjies Roux

Donderdag 19 Mei, met die opening van Stuur groete aan Mannetjies Roux, was dit vir die gehoor ’n eerste – om ’n Afrikaanse musiekteaterproduksie te beleef wat hoofsaaklik op die liedjies van een liedjieskrywer gegrond is.

In dié geval die gewilde Christopher Torr, wie se liedjies deur Laurika Rauch bekend gemaak is. Getroud in die werklike lewe werk hulle ook met groot sukses saam in die musiekbedryf.

Die verhaal van Stuur groete aan Mannetjies Roux speel af op ’n Karooplaas, Dwarsbult, rondom die beginjare tagtig met die hedendaagse Engela as verteller (Rauch) wat as’t ware terugkyk na ’n dramatiese vakansie wat dinge onherroeplik verander het.

’n Plaasstorie, maar in wese ’n mensstorie. Van mure wat gebou is (en gebou word), van duistere geheime wat blootgelê word en van die liefde – sommige in die liefde verraai, ander op die drumpel van ontdekking.

Christopher Torr se liedjies (met enkele toevoegings) word soomloos by die verhaal ingewerk. Sy liedjies ruik na grond en die belofte van reën. Dit vertel van die liefde en blou lug, van karakters wat helder voor jou opdoem. Van die wel en wee van mense.

En soos te wagte verleen Laurika Rauch die kleur en skakering. Haar sang is sonder fieterjasies of ’n oordrewe aanslag – skoon, suiwer en opreg.

Mannetjies Roux
Mannetjies Roux

Saam met Rauch word jong opwindende stemme gehoor: Kika Smit as die jong Engela en Steffie le Roux as Karina. Die skoene van die geheimsinnige Toemaar word volgestaan deur Elton Landrew. Eben Genis was te sien in die rol van Frans, boer van Dwarsbult (wat ook deur Deon Lotz gespeel gaan word), en Isadora Verwey as sy vrou, Koba. En ter ondersteuning is daar ’n stewige koor.

Reeds vóór die opening het dit geblyk dat Stuur groete aan Mannetjies Roux mense se verbeelding aangryp met die speelvak by die Atterbury-teater wat reeds met ’n week verleng is tot 12 Junie. Daarna word dit aangebied by Kunstekaap van 22 Junie tot 3 Julie, by Emperor’s Palace in Johannesburg van 6 tot 24 Julie en by die Sand du Plessis in Bloemfontein van 28 tot 30 Julie.

Ilse Klink, Christopher Torr en Isadora Verwey
Ilse Klink, Christopher Torr en Isadora Verwey

Die produksie word geborg deur Momentum wat hiermee vir die eerste keer op kulturele vlak ’n wesentlike bydrae tot die uitvoerende kunste maak.

Nicolaas Kruger, uitvoerende hoof van Momentum, het gisteraand voor die vertoning gese: “Stuur groete verteenwoordig die viering van Suid-Afrika se ryk en uiteenlopende kulturele talent. Ons is bevoorreg dat ons in staat is om hierdie uitnemende produksie te ondersteun.”

Al die wins wat uit die produksie gemaak word, gaan aan die Atterbury-trust – ’n trust wat veral fokus op opvoedkundige gebied deur skole te ondersteun en voornemende studente te help met beurse.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply