Die Suidoosterfees en kykNET se gewilde Suidooster-sepiesterre span kragte saam om van 2 tot 8 November 2021 ’n onvergeetlike inryteater-program aan die publiek te bring. Soos verlede jaar word dié feestelike ervaring by kykNET Atlantic Studios in Kaapstad aangebied. Gehore kan vanuit die gemak en veiligheid van hul motors na vertonings op die silwerskerm kyk terwyl hulle die klankbaan op hul motorradio’s volg.

Feesgangers sal elke aand by die inryteater deur hul gunsteling-Suidooster-sterre verwelkom word. Op 2 November om 18:30 vier die kykNET-sepie sy sesde verjaardag met Suidooster-makietie. Buiten lekker loslit-vermaak gaan daar ’n baie spesiale episode op die grootskerm gewys word. Sepie-aanhangers kan hulle solank regmaak vir die verrassing van die jaar. Boonop kry elke voertuig ’n geskenkpakkie ter waarde van R600, en die opbrengs uit kaartjieverkope word aan die Rooikruis-kinderhospitaal se Children’s Hospital Trust geskenk.

Kaartjiepryse wissel tussen R150 en R300 per motor, en daar is ook ander jolige produksies op die spyskaart.

In Die liedjiemakers op 3 November om 20:00 sluit bekende musiekmakers hulle op die verhoog aan by jong nuwe stemme wie se talent tydens die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekskryfmentorskap-projek geslyp is. Frazer en Deniel Barry, Earl Witbooi, Ramon Alexander, Llewellyn Adonis, Natasha van der Merwe, Loukmaan Adams, Eden Classens, Jerome Rex, Jodi Jantjies, Breyten Treurnicht, Brumelda Bell, Nicol Klopper, Gabriel Plaatjies en Naaim Briesies gaan optree.

ABBA se grootste treffers word op 4, 5 en 6 November om 20:00 uitgevoer wanneer Gary Naidoo, Riyaan Cornelius, Janine Cornelius, Jon-E, Celest Dreyer en JJ Petersen gehore in Dancing Queen op ’n musikale reis na die diskovloere van die 70s en 80s neem.

Mense wat lus is vir lekker lag moet nie Lag my klaop 8 November om 20:00 misloop nie. Dié aanbieding sluit vanjaar die fees se ontwikkelingsprojek vir jong grapjasse wat deur ervare hande gementor word, op ’n skreeusnaakse noot af. Die Lag my kla’-kompetisiewenners wys hul staal saam met staatmakers soos Shimmy Isaacs, Francois van As, Lunga Tshuka, Schalk Bezuidenhout, Wynand Kotze en Dean Smith.

Kaartjies vir die vertonings van 2 tot 8 November by kykNET Atlantic Studios kan by Computicket bespreek word. Die Suidoosterfees se inryteater-inisiatief word moontlik gemaak deur die samewerking van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement vanKultuursake en Sport; Stad Kaapstad; kykNET; NATi en die Jakes Gerwel Stigting.

Shimmy Isaacs - Lag my kla: Shimmy Isaacs is te sien in Lag my kla’ by die Suidoosterfees se inryteater.
Shimmy Isaacs – Lag my kla: Shimmy Isaacs is te sien in Lag my kla’ by die Suidoosterfees se inryteater.

Lewer kommentaar

Leave a Reply