Teater vir die Boland

Kunstekaap, die Wes-Kaapse spilpunt vir die uitvoerende kunste, begin vanjaar met ´n daadwerklike plan om na die platteland uit te reik en bied twee professionele verhoogstukke in die Boland aan.

Kaapstad Opera en Kaapstadse Stadsballet gaan op 28 en 30 Julie vanjaar twee opvoerings per dag onder die vaandel van Kunstekaap in Paarl en Wellington aanbied. Die eerste vertonings word op leerders gemik terwyl die tweede vertonings vir die publiek oop is.

“Dit is ´n toetsprogram,” sê Marlene le Roux, direkteur van gehore ontwikkeling en onderrig by Kunstekaap. “Die sukses van die Boland-projek sal bepaal of Kunstekaap na ander plattelandse gebiede kan uitreik.

“Die kaartjies van elke vertoning sal so goedkoop moontlik gehou word om almal die geleentheid te bied om die 90-minute vertonings by te woon. Plaaslike kunsorganisasies sal deur winsdeling fondse kan insamel om hulle eie kunsbedrywighede te bevorder.

“Met dié uitreikprogram bring ons die kunste na die mense en gee plaaslike liggame kans om fondse in te samel vir hulle eie werk. Dit is ware bemagtiging deur die kunste,” sê Le Roux.

Kunstekaap hou op Vrydag, 11 Junie 2004 ´n beplanningsvergadering in samewerking met die Frank Pietersen Musieksentrum van Paarl (Sanddrifstraat, Tel. 872-2123) aan om alle musiek-, ballet- en kunsonderwysers in die Boland by die opwindende projek te betrek.

“Alle kunsteskole en -sentrums van die Boland en selfs die Breederivier is welkom om ´n afgevaardigde na die vergadering te stuur. Die vergadering begin om 15:00 (3 nm) en al die besonderhede van die verskillende lokale, programme, vertoningstye en kunstenaars sal dan bekend gemaak word.

“Die kaartjies vir die vier vertonings sal ook tussen die verskillende organisasies verdeel word sodat elkeen ´n gelyke kans sal kry om n die projek te deel,” sê Le Roux.

Die voorlopige plan is dat Wellington se twee uitvoerings op Vrydag 30 Julie 2004 in die middag en aand sal plaasvind. Vir die Paarl-opvoerings word die oggend en die middag van Woensdag, 28 Julie 2004 oorweeg ten einde maksimum bywoning te verseker.

Die plattelandse uitreikprogram is ´n verlenging van Kunstekaap se bydrae om teater na die mense te bring en sodoende mense na die teater te bring. ´n Xhosa-drama is verlede week vir die publiek opgevoer in Langa om veeltaligheid deur die uitvoerende kunste te bevorder.

“Kunstekaap glo dat die uitvoerende kunste se toekoms deur sulke aksies bevorder word,” sê Michael Maas, bestuurshoof van die organisasie. “Vanuit ´n historiese perspektief moet die kunste vandag meer as ooit uitreik om diegene wat nooit die betowering van die teater belewe het nie, daaraan bloot te stel.

“Ons glo die teater kan ´n groot rol speel om brûe te bou en mense nader aan mekaar te bring,” sê Maas.

Lewer kommentaar

Leave a Reply