Tollie Parton (Wynand Kotze) was nog altyd die tè eerlike vriendin wat dikwels mense kwaad maak en sy vertel al vir jare hoe sy vir niks en niemand bang is nie, maar is dit regtig die waarheid? Is sy nes die dapper muis van ouds bereid om te sê dat sy ook vir niks skrik nie? Jok sy nes daai vuil muis? Wel, tottie en nie verder nie! In Tollie se nuutste aflewering kan sy ongelukkig nie help om die waarheid te laat glip nie.
Wynand Kotze is ’n plattelander met ’n ongesonde liefde vir gemmerkoekies. Hy word dikwels beskryf as ‘’reguit’’ en ‘’snaaks’’. Hy beskryf homself egter as ‘’gay’’ en ‘’voorbarig’’. Hy het vroeg in sy lewe al besluit dat ten spyte van alles, hy vir homself ’n lewe wil bou waarop hy kan trots wees. Hy betaal toe meestal sy eie studies, verkoop sy siel vir sakgeld en besluit om homself met volk en vaderland te deel!
Hy het oorspronklik graad gevang as ‘n teaterstudent en skrywer, maar soos enige kunstenaar, moes hy sy eie verhoog skep. In 2020 het Wynand die internet betree en na ses maande staan sy profiel op 110 000 volgelinge wat smeek vir ‘n show en hy is net te bly dat hy nog nie boeliebeef hoef te eet nie. Met ‘n slap tong en ‘n kop stewig op sy skouers, laat hy geen klip onomgekeer nie. Hy is vinnig, welbelese en sy staaltjies is genoeg om jou Olimpiese miltsteek te gee!
Tottie en nie verder nie is die nuutste “stand-up comedy” vertoning deur drag-superster Tollie Parton. Selfs ’n vreeslose fopdosser is soms weerloos teen natuur. Die liefde het haar kom sag maak. Die probleem is egter, hoe lank gaan dit hou? En wie is die man wat haar hart so kom steel het? Baie mense dink dis Steve. Watter Steve? En kan dit wees? Is dit te goed om waar te wees? Dat ten spyte van wat daar oor haar gesê word, sy werklik eintlik net hier is om die goeie nuus te bring? Daar is niks wat die liefde en ’n skaaptjop nie kan regmaak nie!
Bespreek jou kaartjies nou vir Tollie Parton se Tottie en nie verder nie by die Theatre of Marcellus by Emperors Palace op Vrydag, 21 Augustus 2026 om sewe-uur aanlyn by www.LTickets.co.za.

