Twee en twintigduisend leerders ontmoet by Kunstekaap

Meer as 22 000 leerders vanoor die hele Wes-Kaap kom in Augustus in Kaapstad byeen vir Kunstekaap se innoverende Skolekunsteprogram.


Die program word deur die 14de Skolekunstefees geanker wat op Maandag 11 Augustus begin en uiteindelik ‘n hoogtepunt bereik met ‘n gala-opvoering op Vrydag 29 Augustus by die Kunstekaap Teater.

“Die Skolekunstefees is waarskynlik die grootste van sy soort in Suid-Afrika. Kunstekaap het gevolglik besluit om dié platform te gebuik om die land se 20 jaar van vryheid en demokrasie te vier,” sê Marlene le Roux, Kunstekaap se direkteur van gehore-ontwikkeling en onderrig.

Benewens die skolekunstefees bied die program oggendvertonings van Vlooi en die sirkus/Kipper and the circus vir junior leerders; ‘n foto-uitstalling deur leerders in die Teaterfoyer; die Hoërskole Dramafees by die Kunstekaap Arena; Four Seasons, die voorgeskrewe danswerk vir skole, opgevoer deur die Vuyani Dansteater; en die streeksfinaal van die ATKV Tienertoneelkompetisie.

“Ons verwag meer as 22 000 leerders by die Kunstekaap Skouburg tydens die drie weke se feesvieringe. Van hulle as deelnemers en die ander as toeskouers,” sê sy.

Altesaam 86 skole en nagenoeg 2 400 leerders van laer- en hoërskole, sowel as skole vir leerders met spesiale behoeftes het vir die jaarlikse kaleidoskoop van vers, musiek en dans ingeskryf.

Die Skolekunstefees en die Hoërskole Dramafees word in die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, naamlik Afrikaans, Engels en isiXhosa aangebied.

Vanjaar het 43 skole vir die Hoërskole Dramafees geregistreer. Dié fees bied aan elke skool die geleentheid om hulle eie toneelstukke, gebaseer op die sentrale tema van demokrasie, te konseptualiseer, skryf, vervaardig en op te voer. Verskeie mini-Hoërskole Dramafeeste is in Mei in George,Kaapstad, Malmesbury en Robertson aangebied.

Die 16 finaliste skole is toe gekies om hulle wen-toneelstukke van 11 tot 14 Augustus by die Kunstekaap Arena op te voer. Drie hoog aangeskrewe teaterpersoonlikhede sal die toneelstukke in nege kategoriëe beoordeel. Hulle is Johnny Klein van die ATKV, dramaturg en regisseur Fatima Dike van die Siyasanga Kaapstad Teatergeselskap, en akteur Francois Toerien.

Die drie wenstukke kom op Saterdag 16 Augustus op die planke, gevolg deur ‘n toekenningsplegtigheid om die kategoriewenners aan te kondig. Dit sluit in beste akteur, aktrise, regisseur en aanbieding.

“Sover ons weet is Kunstekaap die enigste staatsgesubsideerde uitvoerende kunste instelling in die land wat ‘n provinsial kunstefees van die omvang aanbied. Oor die afgelope 14 jaar het die gebeurtenis in so ‘n mate gegroei dat dit Kunstekaap se grootste jaarlikse ontwikkelingsprojek is.

“Albei feeste is toonvensters waardeur leerders vanuit ‘n wye spektrum van opvoedkundige instellings hulle uiteenlopende talente op ‘n professionele verhoog ten toonstel, te leer van die disipline verbonde aan die uitvoerende kunste, sowel as om die skoleleerplan aan te vul,” sê Le Roux.

Hoewel die Skolekunstefees nie ‘n kompetisie is nie, sal vier beoordelaars onder leiding van Jenny van Papendorp die 15 mees belowende opvoerings aanwys om by ‘n gala-uitvoering op Vrydag 29 Augustus by die Kunstekaap Teater op te tree.

“Die Skolekunsteprogram bied ondermeer aan opvoeders en leerders die geleentheid om die agter-die-skerms-werking van ‘n professionele teater te ervaar. Ondanks hulle verskillende kulturele agtergronde, werk leerders en hulle ouers saam om ‘n gemeenskaplike doel te bereik,” sê Michael Maas, Kunstekaap se hoofuitvoerende beampte.

Kaartjies kos R40 elk vir die twee feeste en is beskikbaar by Kustekaap Bel-‘n-Sitplek 021 421 7695, Computicket 0861 915 8000, Shoprite en Checkers-winkels, of aanlyn www.computicket.com.

Lewer kommentaar

Leave a Reply