Dit is die 21ste maal dat Krazy Katz produksiehuis in samewerking met Kunstekaap en Oxford University Press ‘n Vlooi avontuur aanbied, en wel: “Vlooi en die Ondergrondse Avontuur”. As die towersleutel begin gloei, bevind Vlooi en sy maats hulself diep binne in die aarde se maag, en so begin hulle ondergrondse avontuur.
Vlooi (Minke Marais) en die buurmaat Wilma (Devonecia Swartz) is altyd reg vir aksie en raai wat, Vlooi se Ouma (René Cloete) maak ook vanjaar die avontuur mee. Hulle ontmoet vir Willie, die reus, (Robert Hindley), Dwiddel die dwerg, (Eldon van der Merwe) en ‘n baie lawwe volstruis met die naam Elvis (Wian Taljaard). Alles is egter nie net pret en plesier nie, want Elvis is op soek na ‘n diamant, en hy sal enige iets doen om dit te kry. Vlooi en sy vriende is in gevaar en benodig asseblief julle hulp.
So koop jou kaartjie en raak deel van die sprokieswêreld van stalagmiete, stalaktiete en aardbewings, wat lei tot ligte wat flikker en soms heeltemal uitdoof …
Die vervaardigers van Vlooi, Marinda Engelbrecht (regisseur) & Margit Meyer-Rödenbeck (teks) is in Maart vanjaar beloon met die Fleur du Cap toekenning vir beste kinderteater vir 2022 se Vlooi- produksie. Hulle word ondersteun deur ‘n gedugte span: Coenraad Rall (musiek), Carlia Greyling (koreografie), Lara Rossouw & Elana –Marié Snyman (kostuums en dekor).
Die produksie word vanaf 16 Augustus tot 8 September elke weeksdag vir skoolgroepe aangebied om 09:30 & 11:00. Afrikaanse en Engelse vertonings word om die week afgewissel.
Daar is een vertoning in Afrikaans vir die publiek op Saterdag 19 Augustus om 14:30. Bespreek by Computicket.
Terugvoer oor verlede jaar se “Vlooi en die Geheim”: Juffrou Karin Soyez van Laerskool Eikestad: “Vlooi het deur al die jare ons leerders met meer as net vermaak bederf! Die belewing in ‘n pragtige teater, die ontmoeting met die akteurs in hul kleurvolle kostuums, en die asemrowende rekwisiete en stelbou sal ons leerders beslis baie lank bybly!”

Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
