deur Ferdi Wheeler

Ek kan nog goed onthou, toe Arnold du Preez daardie aand aan die bopunt van die trappe in sy herehuis verskyn het. Hy was geklee in ‘n rooi satyn rookbaadjie, oor ‘n wit hemp en krawat, met ‘n wit langbroek en volstruisleerskoene. Hy was wankelrig en het skuifelend en half van balans af na die bopunt van die trapreling getas en toe krampagtig daaraan geklou.

man trappe qvr

Vir ‘n oomblik het hy die geroesemoes onder hom gade geslaan en toe die ander hand aan die binnekant van die baadjie laat inglip en uit ‘n binnesak ‘n sigarethouer gehaal. Die gepoleerde goud van die houer het glimmende weerkaats in die lig van die reuse kandelare, wat bokant die koppe van die jolige klomp onder in die balsaal gehang het. Hy het die houer bekyk, asof dit ‘n fassinerende raaisel was. ‘n Lyfbediende in ‘n blou tuxedo het uit die gang aan sy linkerkant verskyn en die houer swyend uit sy hand geneem, dit oop laat klik en ‘n sigaret uitgehaal. Daarna het hy ‘n aansteker uit sy broeksak gehaal en die sigaret opgesteek. Hy het een teug geneem en die brandende sigaret na Arnold du Preez toe uitgehou. Laasgenoemde het die aangebode sigaret woordeloos geneem. Die rook wat hy vervolgens in geteug het, het hom inmekaar laat trek van die hoes.

Teen daardie tyd was almal in die balsaal se aandag al op die verskrompelde figuur gerig. Daar was ‘n goeie 60 of so teenwoordig. Hulle was besig om die komende Nuwejaar feestelik in te dans. ‘n Uitgelese groep tussen die 60 was intiem bevriend met Arnold du Preez en die res was meelopers wat die lede van die binnekring vergesel het, met die oog op ‘n genotvolle partytjie aan’t huis van een van die stad se voorste burgers.

Dit was al amper elfuur. Die meeste gaste was al warm. Kelners, wat spesiaal vir die geleentheid gehuur was, het in wit uniforms met swart strikdasse tussen die tafels met volgelaaide skinkborde rondgedartel. Die geruis van die stemme was luid. Dit is aangevul deur die twee orkeste wat mekaar afgewissel het. Daar was ‘n strykensemble wat die hele aand walse gespeel het, en ‘n tradisionele orkes, wat die gewildste was. Laasgenoemde het natuurlik ook walse gespeel, maar afwisselend ook polkas, setiese en tweestapdanse. Dié orkes het die danspare laggend en opgewonde dansvloer toe gelok.

Die geruis van stemme het egter merkbaar bedaar, met die verskyning van Arnold du Preez. Dit was uiteraard die lede van sy binnekring wat die meeste aandag aan sy persoon gegee het. Hulle het die uitdrukking op sy gesig probeer interpreteer. Maar selfs die vreemdelinge kon sien dat die man nie in ‘n opgewekte bui was nie. Allermins. Daarvoor was Arnold du Preez té opvallend broos en afgetrokke.

Die feesvierende het uit baie kategorieë van die samelewing bestaan. Hulle was gesete by tafels wat in ‘n sirkel rondom die dansvloer gerangskik was. Daar was vyf tafels en die groepe van twaalf aan elke tafel het merendeels dieselfde belangstellings gedeel en het dieselfde agtergrond gehad – sonder om natuurlik te verabsoluteer.

Die tafel die naaste aan die trappe, het byvoorbeeld bestaan uit die geselskap van die Hoof van die Lugmag. Dit, was die generale staf en hul gades. Die ses mans aan die tafel was uitgedos in diepblou uniforms met baie brokaat en medaljes se kleure op hul linkerborste.

Die Hoof van die Lugmag moes skuins draai om Arnold du Preez te beskou. Hy was nie ‘n professionele soldaat in die ware sin van die woord nie. Nee, sy posisie was eerder te danke aan sy hoë konneksies en die regerende party se beleid om kaders in sleutelposte aan te stel. Die skindertonge en die spekulerende pers het hom van onderduimsheid met die toekenning van lugmag kontrakte beskuldig. Niks kon egter bewys word nie. Arnold, is gesê, was die man in die vleuels, die spelbreker, wat self ‘n grafie vol goud uit die aankoop van die lugmag se nuwe stralers gemaak het. Dit kon egter ook nie bewys word nie. Wat wel waar was, was dat die twee noue verbintenisse gehad het. Daarom g’n wonder dat die Hoof van die Lugmag met sjampanjeglas in die hand opgestaan en ‘n heildronk op Arnold du Preez ingestel het nie.

“Hoera! Drie hoera’s!” het hy uitgeroep in ‘n bevelende hoë sonore stemtoon.

Die aanwesiges het gehoor gegee. Stoele is skrapende agteruit gestoot met die kuite, soos hulle opgestaan en aan die heildronk meegedoen het. Die drie hoera’s het van die hoë plafon af weergalm.

Arnold du Preez het die hand met die sigaret ook op die trapreling laat rus en met die fynste trek van die lippe geglimlag. Sy gaste het laggend gaan sit en die meeste het weer met die gedans en geselsery voortgegaan. Hy het aarselend teen die trappe begin afstap. Voetjie vir voetjie. Die lyfbediende aan sy sy, met een hand die heeltyd huiwerend agter Arnold du Preez se rug om klaarblyklik vinnig te kan keer as sy meester sou struikel en, behoede, sou val.

Die Hoof van die Lugmag het van sy stoel af weggedraai en na die onderpunt van die trappe toe gestap. Hy het op stywe bene beweeg met ‘n gemoedelike uitdrukking op sy gesig. Agter sy rug was dit egter ‘n heel ander toneel.

Een man in die besonder, het Arnold du Preez se vordering met koue oë gevolg. Dit was ‘n Generaal Scipio, die man in beheer van die Lugmag se Logistieke Afdeling. Hy was ‘n soldaat in hart, in niere. Iemand wat deur die range met onderskeiding gevorder het, tot waar hy hom op daardie oomblik bevind het. Nie dat hy nie ook korrup was nie. Hy het die meeste van die kontrakte vir bewapening goedgekeur en meestal geteken ook. Met sy haakneus en klein mondjie, was hy nie die aantreklikste man in die huis nie. Sy vrou, langs hom aan die tafel en in die omgang bekend as Honey, was egter ‘n uitsonderlike mooi vrou. Sy was ‘n blonde vrou met treffende amandelvormige bruin oë en ‘n sensuele mond. Sy was skaars agtien toe sy met hom getroud is, in wat ‘n liefdelose huwelik sou wees. Sy het ook Arnold du Preez sit en dophou. Maar niks van die afkeer van haar gade het op haar gesig gewys nie. Jy sou haar as uitdrukkingloos kon beskryf, was dit nie vir die fyn lagie sweet op haar bolip nie.

Die  tradisionele orkes het met hernude ywer met ‘n polka weggetrek, toe Arnold du Preez die onderpunt van die trap bereik.

“Bly jy kon die tyd afstaan om die partytjie by te woon,” het die Hoof van die Lugmag grappenderwys gesê en by Arnold du  Preez ingehaak en baie geduldig met klein treetjies saam met hom na die lugmagtafel toe gestap. Dit het ‘n ligte konsternasie by daardie tafel veroorsaak. Wie sou moes plek maak vir Arnold du Preez? Die mans was almal generaals en tot die dood toe wedywerend. Daar’s rondgekyk, maar dis Honey wat met haar servet teen haar lippe gedruk en woordeloos opgestaan het. Haar man het afkeurend na haar gekyk. Hy’t haar kapitulasie persoonlik opgeneem.

“Ek gaan by Myra aan die tafel sit. Ons het baie om oor te gesels,” het Honey gesê. Sy’t bedagsaam haar stoel teruggetrek, sodat Arnold du Preez gemaklik daarop kon gaan sit. By die stoel het die Hoof van die Lugmag Arnold du Preez se arm gelos en hy het skuifelend nader gestap, maar nie dadelik gaan sit nie. Hy’t Honey vol in die gesig gekyk, ‘n arm uitgesteek en met vingers na binne gebuig, oor haar wang gestreel. Sy’t effens verbouereerd skuins weggekyk, maar tog geglimlag.

Generaal Scipio het sy arms voor hom op tafel gevou en die vêrte in gekyk. Hy’t ‘n ewige hekel gehad aan intimiteit en veral Honey se toegeneentheid, nie net teenoor Arnold du Preez nie, maar in die laaste tyd ook jeens die lyfbediende, iemand wat hy hom nog voorgeneem het om onder sy duim te vermorsel. Laasgenoemde, wat die prosessie getrou gevolg het, het haar aangespreek en aangebied om vir haar ‘n stoel te bring. Sy het egter net haar kop geskud en glimlaggend na ‘n tafel oorkant die dansvloer toe gestap.

Arnold du Preez het plaasgeneem en met ‘n glimlaggie in die rondte na die generaals en hul vrouens gekyk. Die lyfbediende het oor Arnold du Preez se skouer gebuk en in sy oor gefluister, waarop hy net sy kop geskud het. Toe het hy die teenwoordiges toegespreek:

“Dis net uit agting vir u wat ek ‘n oomblik hier by u tafel vertoef,” het hy in sy harde growwe stem gesê. “Ek bly net vir ‘n heildronk. Daarna sal ek my na die biljartkamer begeef, waar ek hoop u by my sal aansluit wanneer die Nuwejaar aanbreek.”

“Natuurlik, Arnold,” het die Hoof van die Lugmag gesê en die generaals en hul vrouens het innemend geglimlag en elkeen op hul eie manier gesê hoe goed hulle die idee vind.

“Kelner! Bring nog sjampanje!” het die Hoof van die Lugmag daarna uitgeroep. Die aangesproke kelner het onmiddellik van rigting verander en die gevulde sjampanjeglase op sy skinkbord stelselmatig voor die mense rondom die tafel afgelaai.

“Op die gasheer!” het die Hoof van die Lugmag uitgeroep en die glas in sy hand weer die aand na Arnold du Preez toe uitgehou.

“Op die gasheer!” het die ander in ‘n koor herhaal – selfs Generaal Scipio,  hoewel hy meer gemompel het as iets anders.

Daar was stilte terwyl almal mondjies vol sjampanje gedrink het. Dit was ‘n ongemaklike stilte. Arnold du Preez se hopelose gesondheidstoestand het almal se gedagtes oorheers. Hy het net twee slukke van sy glas geneem en dit toe weer neergesit.

“Tot later dan,” het hy gesê en orent gesukkel. Sy lyfbediende was onmiddellik by en het hom aan die arm orent gehelp. “Tot middernag…”

Die twee het stadig hul weg deur die gaste gebaan. Kort-kort het Arnold du Preez by ‘n tafel gestop  om ‘n woordjie met die een en ander te wissel. Uiteindelik het hulle die swaar mahonie deure aan die oorkantste muur bereik en daardeur in die biljartkamer in verdwyn. Daarbinne het Arnold du Preez stadig na ‘n chaise longue toe gestap, daarop gaan sit, teruggeleun en uiteindelik daarop gaan lê. Die lyfbediende het respekvol ‘n paar treë weggestaan.

“Jy kan my nou maar alleen los, Rodney. Ek rus net so ‘n bietjie.”

“Seker, meneer,” het Rodney die lyfbediende gesê en omgedraai en uitgestap.

Terug by die lugmagtafel het die gesprek oor Arnold du Preez gegaan.

“Hy’s klaar,” het die Lugmaghoof opgemerk.

“Hoogtyd,” het Generaal Scipio opgemerk.

En so aan is bespiegel oor Arnold du Preez se voortbestaan. Die generaals kon nie te veel sê in die teenwoordigheid van hul gades nie. Die kyke wat egter onder mekaar uitgeruil is, het boekdele gespreek. Op ‘n stadium het die vroue egter almal die tafel verlaat. Hulle het met ander maats gaan dans, of weggedwaal en ander geselskap in die saal gaan soek.

“Ons moet optree,” het die Lugmaghoof  skielik lakoniek gesê. “As hy die gees gee, is ons in die moeilikheid. Hierdie huis is oorlaai met bewyse wat ons skade kan berokken. Ek dink ons moet boontoe gaan, terwyl hy nou in die biljartkamer is, en ‘n bietjie soek en rondkyk.”

Generaal Scipio was die eerste om op te staan. Wanneer dit by Arnold du Preez gekom het, het hy nie moeite gedoen om sy misnoeë te verberg nie. Die ses generaals het so doodluiters as moontlik met die trappe opgestap en gemaak humoristies gepraat. Net twee mense het hul vertrek met belangstelling gevolg: Rodney en Honey.

Rodney het by die biljartkamer vir alle praktiese oorwegings waggestaan om te keer dat welmenendes Arnold du Preez se rus versteur. So onopsigtelik as moontlik het hy sy pos verlaat en na Honey toe geloop en, sonder om hom aan die gebabbel om die tafel te steur, ‘n hand op Honey se skouer gesit en sagweg met haar gepraat. Sy’t geknik. Hy het stilweg omgedraai en terug in die biljartkamer ingegaan. Dit het eers vir hom gelyk asof Arnold du Preez slaap, maar toe hy hom aanspreek, het laasgenoemde ‘n wenkbrou gelig en sy oë oopgemaak.

“Die generaals is boontoe, meneer,” het hy gesê.

Arnold du Preez het gefrons en sy kop geskud. “En ek is nog nie eens dood nie.”

“Sal ek gaan vra of ek hulle van hulp kan wees, meneer?”

Arnold du Preez het geglimlag vir Rodney se woordkeuse. “Hulle sal niks in my kamers kry nie, Rodney.”

“Ek verstaan meneer…”

Voor hulle die situasie verder kon bespreek, het Honey binnegekom en die deur agter haar met haar rug toegedruk. Daar het sy bly staan. Rodney het vraend na Arnold du Preez gekyk. Laasgenoemde het op sy sy gedraai, en toe regop gesit.

Rodney het by die deur stelling ingeneem en die toneeltjie voor hom strak beskou. Honey het vorentoe getree en ‘n entjie die kamer binnegestap het. Die twee het na mekaar gekyk. Sy het met ‘n vinger onder haar ooglede gevee.

“Jy huil alweer,” het Arnold du Preez gesê.

Sy het weggekyk en toe teruggekyk en hom stip bestudeer. Hy het met ‘n hand langs hom op die chaise longue geklop. “Kom sit.” Sy’t gehoorsaam vorentoe getree, maar toe by hom op haar knieë gekniel. Hy’t haar gesig in sy hande geneem en haar op die mond gesoen. Die keer het ‘n groot blink traan teen haar wang afgeloop en hy het met sy hand dit weggevee.

“Jy weet mos wat om te doen. Ek los alles vir jou. Gee my ‘n pen en papier.”

Sy’t gesnuif en haar aandsakkie oopgeknip. Sy’t ‘n sneesdoekie en ‘n wenkbroupotlood uitgehaal en dit na hom toe uitgehou. Hy’t vir die eerste keer die aand ‘n laggie gelos en die innoverende skryfgoed by haar geneem. Die sneesdoekie het hy op sy knie oopgevou en met die potlood ‘n kode daarop geskryf.

“Dis die kode van die kluis in die bank waarvan ek jou vertel het. Bewaar dit. Daarsonder is jy tot niet.”

“Kom saam,” het sy skielik pleitend gesê.

“Ek is gedaan…Jy weet dit tog. Gaan nou. Jy en Rodney is tog vir mekaar bestem. Julle het my beste wense. Breek weg en gaan maak ‘n nuwe lewe vir julle self.”

Sy’t sy hande styf vasgegryp en dit gesoen. Toe het sy opgestaan en na Rodney toe gestap. Die twee het mekaar in die oë gekyk en sy het sy een hand in hare geneem en skuins teruggedraai. Die trane het nou onbeskaamd oor haar wange geloop. Rodney het ook na hom gekyk. Hy’t ‘n hand gelig en Arnold du Preez gesalueer. Arnold du Preez het die saluut beantwoord. Oomblikke later het die twee langs mekaar by die balsaal uitgestap. Die aandlug was soel en toe hulle eers buite was, het hulle weer hande gevat en haastig na die garages koers gekies, waar die vier luukse motors geparkeer was. En terwyl die generaals entoesiasties besig was om Arnold du Preez se studeerkamer en ander woonvertrekke om te keer, het hulle gesoen en in ‘n geel Ferrari deur die stadstrate weggery, terwyl Nuwejaar-klappers en vuurpyle vrolik in ‘n bonte verskeidenheid in die naglug ontplof het.

Lewer kommentaar

Leave a Reply