Die skywerjoernalis Herman Lategan se blitsverkoper, Hoerkind: Die memoires van ʼn
randeier, is deur die bekroonde akteur en teaterskepper Margit Meyer-Rödenbeck in ʼn
toneelstuk verwerk. Die première is by die Suidoosterfees, maar dit reis ook na ander
venues (inligting onder).
Meyer-Rödenbeck is die regisseur van dié onthutsende boek en het ʼn sterk span
byeengebring om as ʼn kreatiewe ensemble aan dié eenmanvertoning te werk. Die
gerekende akteur Geon Nel vertolk die hoofrol.
Die titel Hoerkind verwys na die neerhalende kwetswoord wat aan hom as kind tegesnou
was, omdat hy buite die eg gebore is. Hy skryf oor sy vroeë grootwordjare in kleurvolle
losieshuise vol randeiers (buitestaanders) in Tamboerskloof.
Op ses moes hy na ʼn kinderhuis gaan omdat hulle in armoede geleef het. Later trou sy
ma, sy stiefpa skiet op hom en probeer hom verkrag. Op 13 beland hy in die kloue van ʼn
pedofiel, ʼn vooraanstaande Afrikaanse kunsjoernalis. Albei sy ouers word alkoholiste en
sterf vroeg. Alkohol- en dwelmafhanklikheid ry hom ook. Op ʼn stadium slaap hy op
straat.
Een aand word hy in sy woonstel gyselaar gehou en met ʼn mes gesteek. Hy verloor byna
sy been in ʼn motorongeluk nadat hy op Mannetjies Roux se plaas gaan kuier het en was
vir byna ʼn jaar buite aksie.
Sy foute is volop, maar hy leer soos hy voortbeur. Hierdie is nie ʼn verhaal van
selfbejammering nie, dit een van val, opstaan, val en vorentoe beur, kop omhoog.
Meyer-Rödenbeck sê: “In dié teaterstuk (van 80 minute lank) leer ken ons Herman as
klein seuntjie wat met oorgawe leef, verknog is aan sy ma, maar dan maak
omstandighede dit vir hom onmoontlik om by haar te bly.
“Sy lewenspad het baie afdraaie en heel dikwels ontrafel dinge. Die deurlopende tema
bly die verhaal van een mens wat ten spyte van alles ‘aanhou beweeg en geraasmaak’,
vorentoe, met groot sukses. Hoerkind gaan jou bybly en omkrap, want dit is eerlik.”
 Hoogaangeskrewe teatername is by dié produksie betrokke, soos Francois Toerien
wat die teks verwerk het. Die assistent regisseur en verhoogbestuurder is Jeanne
Steenkamp, die klankbaan is deur Coenraad Rall. die stelontwerp deur Gerrit
Snyman en beligtingsontwerp John B Swart.
 Moontlik gemaak deur: Suidoosterfees. (Geen onder 18 nie: Taal en inhoud)

KKNK
VENUE: VAN REEDE SAAL- OUDTSHOORN
DAG EN TYD: 28 Maart om 15:30; 29 Maart om 20:00; 30 Maart om 13:00

Geon Nel in Hoerkind - fotograaf Gys Loubser
Geon Nel in Hoerkind – fotograaf Gys Loubser

Lewer kommentaar

Leave a Reply