Sophie klim uit die motor uit en stap na die kattebak waar sy haar twee tasse uithaal. "Gee vir my Mevrou," sê die drywer soos hy die tasse uit die kattebak lig, "waar is u huis?" vra hy. Sophie kyk na die groot gebou en dan op die klein geel kaartjie wat sy uit haar sak haal. "Vloer drie, kamer 23,"lees sy. Sonder haar bril lyk dit of die nommers van die papiertjie wil afspring. Net voor die son oor die heuwels verdwyn, is Sophie klaar uitgepak. Nou is sy in ‘n nuwe tuiste. Die uitsig is beter en sy is nou omring met ander oumense. Lang weke van worsteling het verbygegaan voor sy ingegee het om uiteindelik te besef dat dit tyd is vir die ouetehuis. Dit was ‘n moeilike besluit.
Die volgende dag staan Sophie vroeg op. Buite in die bome baljaar die voëls en sy sien ‘n geel vink wat besig is om ‘n nes te bou. Sy kry al klaar die warm gevoel van liefde rondom haar. Die warm lug stroom die woonstel binne toe sy die deur oopgooi. Sy stap die trappe af na die haarsalon.
"Goeie more," sê die haarkapster onder deur haar lang, rooi krulkuif.
"Het jy dalk ‘n plekkie vir my? Gister se lang rit het skoon my hare omgekrap."
Die haarkapster glimlag breed en haar rooi lipstiek skyn helder.
"Ek het die oggend af, alhoewel ek weet hier weer ‘n paar mense sal wees."
Sophie maak haarself gemaklik op een van die stoele. Sy staar in die spieël terwyl die haarkapster ‘n pienk handdoek om haar vasmaak.
"Wat is mevrou se naam?"
"Jy kan my sommer Souf noem," glimlag sy, "ek is nou nog nie so oud nie. Sophie is my regte naam, maar almal noem my sommer Souf."
Die vrou haal ‘n skêr uit ‘n laai en stap weer nader.
"Hierdie plek is vol karakters," begin sy terwyl die skêr deur Sophie se hare gly.
Sophie wil iets sê, maar word vinnig in die rede geval.
"Op watter vloer bly jy, Sophie?"
Vir ‘n oomblik kyk sy net vir die skêr wat van haar linkeroor na die regter oor skuif.
"Vloer drie," kom die woorde na ‘n rukkie.
"Ek weet van ‘n paar karakters op daardie vloer. Jong, ek sal jou besig kan hou vir ure."
So moeilik soos wat dit klink glo Sophie haar tog. Sy wil so graag nuwe vriende maak, so sy sal maar uithou.
"Vertel my bietjie." Sophie dink na oor wat sy gesê het en wonder of dit nie dalk ‘n fout was nie.
"Waar sal ek begin? Oom Hennie, hy en sy vrou, Bettie, bly in die eerste woonstel aan die regterkant. Ek onthou nog die keer toe hy amper weggeloop het. Hy was op hulle voorstoep besig om die plante nat te lei. Betta het ‘n groot geraas van hulle kokketiel gehoor. Eerder as om met hom te gaan praat het sy die hok met ‘n aartappel gegooi!"
Sy begin lag en hou vir ‘n oomblik op sny. Sy bêre die skêr en haal ‘n kleiner een uit en gaan aan, "die aartappel het by die venster uit gevlieg teen Hennie se kop vas. Hy het natuurlik eers gedink dit is stoute kinders wat goed van die boonste vloer af gooi. Inelkgeval, hy het haar daarvan vertel en sy kon nie haar lag hou nie."
Sophie lag onderlangs saam.
"Bettie het die volgende dag ingekom en so onder deur die haarsny dit vir my vertel. Sy het gesê hy wou wegloop. Blykbaar was die ou professor baie kwaad vir haar."
Die haarkapster loop na die kas agter in die salon en haal ‘n botteltjie water uit. Sy stap terug en hou haar hand bo Sophie se oë. Die water druppels plons oor haar hare.
Sy begin weer lag, "Ek wil jou ook vertel van Tant Netta.
Daardie een is nie een vir speletjies nie."
Sophie maak haar oë toe soos die vrou te kere gaan met die waterbotteltjie.
"Sy was een oggend vroeg hier by my, dit was ‘n groot verassing aangesien sy nog nooit by my was nie.
Sy het gesê sy wil haar hare kleur. Ek onthou nog haar hare," sy stop en staan met haar een hand onder haar ken. Dit lyk of sy diep in gedagte is.
Sy skud haar kop liggies en gaan weer aan, "dit was lank en slordig. Ek het haar aangeraai om haar hare eers korter te sny. Die ou tannie het my sommer geskel."
Sophie sit regop, "Wat het sy gesê?"
Haar nuuskierigheid het baie gegroei.
"Vlieg in die hel in, kan jy dit glo? Ek het nooit verwag dat daardie taal oor haar lippe sal vloei nie. Dit nog gesê, ek verwag daardie taal van geen inwoner nie."
Vir ‘n oomblik klink die haarkapster soos ‘n onderwyser wat iemand iets wil leer.
"Waar bly sy?"
Ek dink die derde woonstel, ook aan die regterkant. Sophie dink na en besef dat dit die woonstel langs hare is.
"Sy bly langs my," lag Sophie.
Die haarkapster begin ook uitbars van die lag.
"Ek dink jy sal dit geniet hier," sê sy, terwyl sy die trane uit haar oë vee.
Sophie sit terug in haar stoel. Sy dink ook sy sal dit geniet in haar nuwe tuiste.
skrywer: Johann van der Walt
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
