Visvang is nie vir swakkes nie

 

Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za

Gewoonlik handel die stories oor die grote wat weggekom het – by die De Villiershuishouding was daar ‘n vis wat my ontmasker het vir wie en wat ek is …

Piet Louw (ds), ‘n kollega van my, het sulke giere wat hom tref. As dit nie varknek is wat hy eet nie, dan is dit hoendervleis – en dit word gebraai soos net hy dit kan doen. En dan boer hy met voëls! Ek onthou nog hoe hy `n klomp voëls aan `n troeteldierwinkel, waarvan die eienaar `n vriend van my was, verkoop het. Ek hoor toe na die tyd dat Piet onder andere `n kokketiel met net een poot aan hom verkoop het. “Hulle vreet maar so aan mekaar”, was sy verweer. Eendag daag hy by my op en nooi my en Barney om te gaan visvang want daar is niks wat so lekker smaak en baklei soos ‘n swartbaars nie. Oom Burrie se dam is net die plek!

Visstokke, spinners, polisiemanne en ekstra lyn is ingepak. Dam toe is ons met drome van groot visse in die pan daardie aand. Dié visse sou die Loch Ness-monstertjie soos ‘n uitgedroogde bokkom laat lyk! Na ‘n kort oriëntasie oor watter kant die hoek se skerppunt is en die fyner kunsies van visvang oorgedra is, het die katrolle begin sing en die stokke het kromgestaan onder die gewig van die watergrasse wat in die spinnertjies vasgehaak het. En waarvoor is jy ‘n pa? As die spinner so halflyfdiep die dam in aan ‘n stuk tak vashak, dan moet Pa die water in, want Heidelberg se winkels het nie nog voorraad nie!

Persoonlik het ek begin agterkom dat die dam se water nie die varse soutwater van die see is nie. Toe onthou ek van die stories dat varswatervis na modder kan smaak en ‘n lagie slym op sy vel het. Daarom moet die vis eers in asyn lê voordat jy dit kan bewerk. Met die paddamoesreuk aan my hande, het ek stilletjies Boontoe gevra dat die opbrengs van die middag eerder van Nessie se kleiner kinders sou wees – indien dit nou werklik nodig was om iets te vang!

Die dam het sy oes gegee. Elke seun het ten minste een gevang. Almal tuis moes die glibberige visse bewonder en daaroor koer. Piet het die visse in sy sorg geneem en almal moes proe – nie sleg nie! En die modder – daaroor praat ons nie, want die jongmanne se oorwinning het van hulle jagters gemaak, hulle is nou mans genoeg om te sorg. Daar sal altyd vis in die pot kan wees.

Die volgende Saterdagmiddag het lank begin word toe Barney kom vra of ons nie weer lyne kan gaan natmaak nie. Piet was weg vir die naweek. Die visserman en die ondersteuningsspan, wat die verstrengelde spinners moes herwin (Pa), ry toe uit na oom Burrie se dam. Die water was nie “reg” nie. Met die laaste gooi gebeur dit toe – Barney trek sy eie swartbaars uit. Gelukkig was dit ‘n kleintjie van die Nessie-familie!

Toe volg pa se take: die hoek moes uit die bek. Ek kon dit nie oor my gewete kry om die vis vas te trap en die hoek met die hand uit te haal nie. ‘n Ou koerant en ‘n tang moes die wonder verrig. ” Pa moet die vis se kop afsny” was die volgende opdrag! Maar ek kon nie die vis in die oë kyk nie en sy kop van sy lyf afsny nie. Inteendeel, ons het nie eens ‘n mes saamgeneem nie. Ek vat toe ‘n stuk palmiet en druk dit deur die kieuspleet en deur die bek om die hantering van die vis makliker te maak. (Het ek my verbeel of ek ruik modder en paddaslyk?) Ons is huis toe met die vangs van die middag agter op my bakkie!

Asynwater is in ‘n bak gegooi en die vis met die riet in die bek versigtig ingevoeg. Wat toe alles gebeur het weet ek nie: die kokketiel het beangs gefluit en op die verste punt van die vis af in sy hok gesit en vlerke klap asof hy sommer met hok en al wil wegvlieg; Hermien het gegil, want die vis het skielik lewend geword en gespartel vir `n vale in die asynwater! Ek het die vis aan die stuk palmiet gevang en sonder seremonie in die vrieskas gegooi net om dit die volgende dag bevrore vir die tuinhulp te skenk – selfs die uie, aartappels en tamaties het hy gekry sonder klagtes van my af! Nodeloos om te sê dat ons nie weer gaan visvang het nie!

Wanneer jy ‘n ding aanpak moet jy seker wees dat jy die hart het om dit deur te voer! ‘n Koning val nie ‘n vyand aan sonder om uit te vind waar die oorwig van getalle lê nie! Of anders gestel: jy gaan nie weer sonder Piet visvang nie!

skrywer: Emile de Villiers


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar