Meer swart, bruin en Indiese mense praat Afrikaans as huistaal as wit Suid-Afrikaners, het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) Maandag gesê.
‘n Onlangse studie deur die SAIRV, gebaseer op data uit die sensus van 2011, het getoon dat slegs 40% van mense wat Afrikaans as huistaal praat, wit is.
Dit beteken slegs 2,7 miljoen uit die 6,9 miljoen huishoudings waar Afrikaans gepraat word, is wit, terwyl die res uit ander rassegroepe bestaan.
Daarteenoor is Engels bykans vyf miljoen Suid-Afrikaners se huistaal. Altesaam 1,6 miljoen van dié Engelssprekendes, oftewel 34%, is wit.
Bykans 1,2 miljoen swart Suid-Afrikaners se huistaal is Engels, terwyl 950 000 bruin mense en 1,1 miljoen Indiërs Engels is.
Thuthukani Ndebele, woordvoerder vir die SAIRV, het gesê hoewel Engels die vierde gewildste huistaal is, is dit die voorkeurtaal vir onderrig in Suid-Afrika.
Zoeloe is die mees algemene huistaal in Suid-Afrika, en is altesaam 11,6 miljoen Suid-Afrikaners se moedertaal.
