Die Mandela-handelsmerk partye

Oudpres. Nelson Mandela se familielede het oor die afgelope jaar maatskappye gestig onder sy naam, wat een van die waardevolste persoonlike handelsmerke ter wêreld is.

Dit is ten spyte daarvan dat die Nelson Mandela-stigting die handelsmerk die afgelope dekade heftig beskerm.

Madiba se oudste dogter, Makaziwe Mandela, het einde 2010 saam met haar dogter, Tukwini, die House of Mandela, ’n reeks wyne, in die VSA van stapel gestuur.

Mandela se kleinkinders, Zamaswazi Dlamini en Zaziwe Dlamini, het verlede jaar die maatskappy Long Walk to Freedom Brand gestig. Hulle het ook ‘n ’n werklikheids­program op televisie.

Ook in 2012 het Zondwa Mandela, ’n voormalige mede-direkteur saam met pres. Jacob Zuma se neef, Khulubuse, die maatskappy Mandela 95th Birthday gestig.

Die halfsusters Makaziwe Mandela en Zenani Dlamini het intussen, met die steun van ’n derde kind en die meeste van sy kleinkinders, ’n bitter hofsaak oor die Nelson Mandela-handelsmerk begin.

Ismail Ayob, wat die oudpresident se kinders en kleinkinders in die saak verteenwoordig, het gesê dit is ’n poging van die familie om “dít wat na regte aan hulle behoort terug te eis”.

Ayob sê hy het verlede jaar uitgevind dat adv. George Bizos, die prokureur Bally Chuene, die minister van behuising, Tokyo Sexwale, en die Oos-Kaapse regter Temba Sangoni in 2006 as die direkteurs van twee maatskappye van die voormalige staatshoof aangestel is.

Mandela se kinders en kleinkinders beweer nou in hofstukke dié aanstellings was onwettig en doen aansoek vir ‘n bevel om hulle te laat verwyder. As die aansoek toegestaan word, sal Makaziwe Mandela en Zenani Dlamini die enigste direkteure wees.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar