Kuikenmoord

Die gedreun van die trok wat die piepende kuikens kom aflaai verbreek die stilte op die plaas. Tweeduisend kuikens word sorgvuldig gedra en die afgeskorte kartondose met luggaatjies word by voorbereide hokke geplaas. Soos altyd is Rohan, vyf en Jurika, nege daar om ’n handjie by te sit met die vang en oorplaas van die dagoue kuikens. Izak, pa van die twee, staan hulle trots en dophou vanwaar hy toesig hou oor die voedingsmeganismes in die ander hokke.

Jurika vind ’n verlore kuiken wie se een voetjie beseer is en skenk dadelik aandag aan hom deur hom met haar pop se doek toe te maak sodat hy warm bly. Rohan die onnutsige boetie hou haar fyn dop waar sy die beseerde pasiënt agter in die stoor in ’n kartondoos plaas. Die twee help mekaar om die aanvangsmedisyne met water te meng en in selfvoerders te pomp. Ook die beginstadium voedsel word in hokke geplaas en daar word seker gemaak dat daar geen rooi item of stippeltjie op die grond voorkom nie. Laasgenoemde veroorsaak dat die kuikens mekaar sal pik en as daar eers bloed sigbaar is, hou hulle nie op om mekaar juis daar te karnuffel nie. Dit het net iets te doen met die rooi kleur. Hiermee is hulle takies vir nou eers afgehandel.

Na middagete drentel Rohan weer terug na die hokke en kies koers reguit na die kartondoos in die hoek van die stoor. Hy is bekend daarvoor om iemand ‘n streep te trek as die geleentheid hom sou voordoen. Hy neem die kuiken en troetel hom deur oor die klein koppie te streel en besluit dan om hom bietjie hoër te plaas waar Jurika hom nie kan bykom nie. Met ’n plastiese krat wat hy nader trek en opklim beur hy en trap op die toiletbak om sy ideale bêreplek te bereik, maar hy het egter nie rekening gehou met die toiletbak vol water reg onder die kuiken toe hy sy ewewig verloor en hom laat val nie. Die pasiënt land in die water en in sy skrik en benarde toestand gryp Rohan agterna om die val te keer maar tevergeefs. Met sy tuimel ondertoe druk hy op die spoelmeganisme en … daar tonnelspoel die arme kuiken in sy verdrietigheid in.

Hoe hy ook al probeer verduidelik het, sy storie wou net nie sin maak en gewig dra nie.

hoender

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

  1. Ek kan die prentjie voor my sien afspeel! Baie oulike storie!!

Lewer kommentaar

Leave a Reply