Die nuwe WSpel, die gratis Afrikaanse speltoetser vir MS-Office 2000, XP, 2003, 2007 en 2010, is onlangs beskikbaar gestel.
Met WSpel 11 kry u ’n speltoetser waarin kinders of andertaliges feitlik foutloos kan tik. Afrikaans is beslis nou die maklikste taal ter wêreld om in te tik as u van WSpel as speltoetser gebruik maak.
WSpel is volledig ooreenkomstig die nuwe AWS van 2009 bygewerk. Die nuwe AWS het weggedoen met al daardie alternatiewe van ’n hoofletter of kleinletter vir woorde soos absolutisme, adamsgeslag, diere- en vrugtename, ens. Hulle word nou slegs met ’n kleinletter geskryf. Die AWS is volledig hiervoor deurgewerk en die aanpassings is in WSpel-11 gedoen. U kan steeds ’n woord met ’n kleinletter plus ’n q agteraan tik en regs daarop klik. As die betrokke woord met ’n klein en hoofletter aangedui word, dan beteken dit dat daardie woord nie net as die eerste woord van ’n sin met ’n hoofletter getik hoef te word nie. Tik valenciaq en klik regs daarop. Dit sal met ’n hoofletter as die plek in Spanje aangedui word, maar ook met ’n kleinletter vir die lemoen se naam.
Woorde soos kopiis kry nie meer die deelteken op die tweede “i” nie en hierdie woorde word net soos draaiing verfraaiings ens. uitgespreek. Al hierdie woorde is in WSpel aangepas. Geneeshere en hulle tiksters kan gerus kennis neem dat al daardie mediese en selfs tegniese woorde wat iïn of iïen bevat het nou sonder die deelteken op die tweede i sal verskyn by die tik daarvan. Die woorde met sjirurg is verwyder omdat slegs chirurg nou die erkende spelwyse is.
Sekere woorde soos foeitog en siestog kan ook nou weer vas geskryf word. Die afkortingslys is uitgebrei. Hierdie weergawe van WSpel bevat die addisionele afkortings.
Weergawe 11 bied ook hulp aan met die los of vas skryf van veral daardie samestelling wat uit twee woorde bestaan. As u in die toekoms ’n woord as twee aparte woorde tik, sal WSpel outomaties ’n koppelteken invoeg in al daardie woorde waar die opeenhoping van vokale dit vereis. Voorbeelde: Binne-in, aandele-opsies, A-kruis, aan-aan. As u nie ’n koppelteken gaan kry nie, gaan WSpel die woord verbind as dit ’n saamgestelde woord moet wees. Tik die woord yster pot deksel as drie woorde en dit sal outomaties verander in ysterpotdeksel. Op gelos, as twee woorde sal verbind word. Die mees algemene woorde wat daagliks in Afrikaans gebruik word, sal reggestel word as dit een woord is en u tik dit as twee woorde. WSpel ken die onderskeid tussen baie sinsnedes waarin u reis/rys, steil/styl, pyl/peil, feil/vyl, wei/wy en honderde ander dalk verkeerd kan spel.
WSpel herken nou meer as 483 000 woorde, maar as u na die grootte van die AutoCorrect (MSO 1033-lêer) kyk, sal u sien dat daar oneindig baie meer hulp ingebou is, wat betref spelling en grammatika.
Nadat u weergawe 11 geïnstalleer het, kan u die volgende sin presies so met die foute, tik:
Dit het die heel nag aan een gereen. Dit het ast ware katte en honde gereen en van more is die wereld deur week met water. Ander kant die berg het dit nie baie gereen nie, maar aan die anderkant van die rivier was dit net die ene moerasse.
en WSpel sal dit outomaties korrigeer:
Dit het heelnag aaneen gereën. Dit het as’t ware paddas en platannas gereën en vanmôre is die wêreld deurweek met water. Anderkant die berg het dit nie baie gereën nie, maar aan die ander kant van die rivier was dit net die ene moeras.
Die woorde berg en rivier kan met enige ander woorde vervang word. Onthou as WSpel teks verander, maar u wil u teks behou dan druk u onmiddellik Ctrl z en u teks word herstel.
Geniet die nuwe WSpel!
Kry WSpel 11 gratis by www.wspel.co.za.

WSpel11 werk soos ‘n bom!!
Stem saam.