Met: Daniel Radcliffe, Rupert Grint, Emma Watson, Helena Bonham Carter, Robbie Coltrane, Ralph Fiennes, Michael Gambon, Brendan Gleeson, Gary Oldman, Alan Rickman, Fiona Shaw, Maggie Smith & Emma Thompson
Regisseur: David Yates
Harry Potter is nou uiteindelik ook volwaardige volwasse vermaak. Die vyfde film het sommer heelwat meer om die lyf as die voorgangers.
Dit bly ‘n uitspattige storie, soos mens kan verwag waar daar towenaars betrokke is, maar daar is ‘n tasbare dramatiese ondertoon van die eerste paar minute af. Dit weerklink as ‘n geroffel in jou onderbewussyn en sorg dat jy nie vergeet van wat net voor om die draai lê nie, die groot geveg tussen Harry Potter en die Voldemort-faksie. Mens voel natuurlik by tye dat dit effe te ver gevat word, maar die resultaat is ‘n baie meer ernstige film.
Soos die jong akteurs is Harry Potter ook die keer meer volwasse en lei hy ‘n belangrike opstand. Hy het ‘n beter verhouding met sy peetpa Sirius Black en Professor Snape leer hom ‘n towerkunsie of twee.
Die Potter-films raak al hoe meer ernstig en Harry Potter and the Order of the Phoenix het weer nuwe lewe in die reeks geblaas.
8 / 10
Lewer kommentaar