Daar is twee goed wat jy van The Help moet weet: 1) Die onopregtheid staan uit soos ‘n naakfoto van Jacob Zuma saam met Helen Zille en 2) daar is baie goeie toneelspel in die film.
Ok, wag, dalk is dit ook belangrik om te weet dat jy ‘n traan of twee sál stort. As jy wil goeie raad hê? Laat loop met die trane. Twee en ‘n halwe uur is ‘n lang tyd om te moet inhou.
Dis ‘n tipiese oorvereenvoudigde, Hollywood weergawe van die werklikheid. Dit word onderstreep deur ‘n té perfekte stel en kostuums. Soos ons kon verwag oorwin die bose die goeie en elkeen kry sy plekkie in die son.
Dankie tóg die film is gemaak voor Oprah se terugkeer na die silwerdoek anders het sy haar dalk hier ingewurm en ‘n rits uitstekende vertolkings bederf. Viola Davis (Aibileen) wys hoekom daar ‘n Tony op haar rak staan en Octavia Spencer (Minny) maak behoorlik naam vir haarself. Die twee is op hul beste en dit alleen is genoeg rede om hierdie film te sien. Bryce Dallas Howard (Hilly Holbrook) verdien eervolle vermelding. Sy verdien die Oscar-nominasie, eerder as Jessica Chastain (Celia). Hopelik sien ons haar voortaan in beter rolle as *gaap* Twilight. Pappa is mos nie verniet Ron Howard nie.
Dit film verdien ‘n teleurstellende 6 op ‘n skaal van 10. Spencer en Davis is egter 8+.

Met: Viola Davis, Octavia Spencer, Bryce Dallas Howard, Emma Stone, Jessica Chastain, Allison Janney en Sissy Spacek.
Regisseur: Tate Taylor
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar