Die gewilde Tuin van Digters-fees, wat oor die jare gevestig is as die tuiste van die Afrikaanse digkuns in Suid-Afrika (en die wêreld!) vind op Vrydag 22 en Saterdag 23 Oktober 2021 die 10de agtereenvolgende jaar by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaas.
Dit word in samewerking met NB-Uitgewers weer moontlik gemaak danksy ‘n ruim bydrae van die Dagbreek Trust. Die gewilde Woordtent in die tuin word vanjaar geborg deur Mont du Toit Kelder, geleë aan die voet van die Hawekwaberge in Wellington en sal bekend staan as die Mont du Toit Woordtent.
Liefhebbers van digkuns kan oudergewoonte uitsien na verskeie bekendstellings van nuwe bundels, voorlesings, boekuitstallings, gesprekke en ‘n besondere aanbieding oor vertalings deur PEN Afrikaans, sing van getoonsette gedigte, ‘n pragtige groepkunsuitstalling Recto/Verso, wat deur Frank Kilbourn, voorsitter van Strauss & Co geopen word, ‘n keramiekuitstalling geïnspireer deur Coenie de Villiers se lirieke, veral oor die Karoo, en samesyn tussen digters en liefhebbers van die Afrikaanse digkuns soos nêrens elders nie.
- Alfred Schaffer, die Nederlandse digter wat al jare in Suid-Afrika woon en wie se gedigte ook al in Afrikaans vertaal is, is die digter wat vanjaar gehuldig word.
- ‘n Spesiale program en voorlesings word aangebied ter ere van die digter PJ Philander, wat in November sy 100ste verjaardag sou vier.
- Die Ingrid Jonker-prys vir ‘n Afrikaanse debuutbundel word toegeken aan Ryan Pedro vir sy bundel Pienk ceramic-hondjies.
- PEN Afrikaans bied ’n paneelbespreking oor die vertaling van poësie aan gelei deur Marius Swart met deelnemers die digters en vertalers Alfred Schaffer en Zandra Bezuidenhout en uitgewer Nèlleke de Jager.
- Turksvy Publikasies stel die bloemlesing pandemiegedigte Maskers en mure (met 142 bekende en onbekende digters) bekend. Benewens ‘n gesprek met onder andere een van die samestellers, Daniel Hugo, is van die digters se gedigte deur Frazer Barry getoonset.
- Ons Klyntji, die alternatiewe, veeltalige zine wat gedigte, kortverhale, fotografie en strokiesprente publiseer, word onder leiding van Toast Coetzer bekendgestel.
- Voorlesings met musiek van gedigte van Breyten Breytenbach se volksboekie HOKHOKAAI FRAGMENTE wat hy onlangs in Wellington bekendgestel het.
- Die plaaslike Mengelmoes-woordmakers onder leiding van die digter Diana Ferrus.
- Deborah Steinmair gesels met Daniel Hugo oor sy jongste bundel Klinkklaar.
- Marthie Momberg praat met Bester Meyer oor Die Vlug van die Vreemdeling, sy vertaalde gedigte van Magmoed Darwiesj.
- Ashwin Arendse (Swatland), Ryan Pedro (Pienk ceramic-hondjies) en Zandra Bezuidenhout (Derde gety) lees voor uit hulle jongste digbundels.
- Die Poolse akademikus Jerzy Koch is in gesprek met Daniel Hugo oor Koch se Afrikaanse digbundel Pleks van plaas.
- ‘n Oop verhoog aangebied deur die jeugdireksie van die Breytenbach Sentrum waar oud en jonk hulle gedigte kan voorlees.
- Musiek en toonsettings van gedigte deur onder andere Curtis van Kerwel, José Dias, Hanna Pretorius, Bram Potgieter, troeplede van die Wellington Superstars, Frazer Barry en oudergewoonte Riku Lätti en sy digmakers en sangers van die nag.
- Die tiende Tuin van Digters sluit op Sondag 24 Oktober om 16:00 af met ‘n uurlange Sondag laatmiddag klassieke klavierkonsert deur die klassieke pianis en “performance poet” Lara Kirsten in die groot oop Akkoordtent. (Afsonderlke beprekings teen R150 per person – wat wyn en ligte verversings insluit – moet gedoen word.)
Daar sal aan alle Covid-vereistes en -regulasies voldoen word.
Kaartjies kos R150 per persoon vir Vrydag se program, R250 per persoon vir al Saterdag se aanbiedings en R350 per persoon vir ’n tweedagpakket met Vrydag sowel as Saterdag se aanbiedings. Studente met ‘n geldige studentekaart betaal R100 per dag en opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry gratis toegang.
Besprekings (ook vir die klassieke konsert)
Jeanne-Mari Gerber 073 435 1022
besprekings@breytenbachsentrum.co.za
Jessica Ruiters 021 873 2786