‘n Veertienjarige tuis-skool violis van Parktown Noord, Johannesburg, Gilah Kellner, het met die louere weggestap in vanjaar se Nasionale Jeugmusiekkompetisie.

Behalwe die goue medalje en R30 000 wat sy by die galakonsert op Saterdag 14 Oktober 2017 by die Hugo Lambrechts-Ouditorium in Parow, Kaapstad, ingepalm het, het die talentvolle musikant ook die R4 000 Polina Burdukova-prys vir die beste uitvoering van ‘n klassieke werk deur ‘n Russiese komponis gekry.

Stellenbosch Universiteit-student Emilio February, 19, het die tweede prys van R10 000 en ‘n silwer medalje verower. Afkomstig van Elsiesrivier, Kaapstad, het sy uitvoering van Hendrik Hofmeyr se Concerto per Marimba e Orchestra D’Achi die R4 000 prys vir die beste uitvoering van ‘n concerto in die finale ronde, sowel as die R2 500 prys vir die beste opvoering van ‘n Suid-Afrikaanse werk, hom te beurt geval.

Die ander kategoriewenners was David Cyster, 17, van Kuilsrivier (blaasinstrumente) en Universiteit van Pretoria-student, Jolandi Schaap, 19, van Menlopark, Pretoria (klavier). Die kategoriewenners het R5 000 elk en ‘n silwer medalje ontvang. Cyster het ook die Leon Hartshorne-prys van R4 000 as die beste blaasinstrumentspeler ingepalm.

Die oorhoofse derde prys van R6 500 het na Namibiese violis Eike Coetzee, 15, gegaan. Hy en Nicholas Bruiners, 19, van Mowbray is albei as naaswenners in die kategorie vir strykinstrumente aangewys. Elkeen het R3 000 ‘n brons medalje ontvang.

Ah-Young Moon, 14, ’n leerder van Renish Girls High in Stellenbosch en Althea Steynberg, 18, van Roodepoort was die respektiewelik die naaswenners vir klavier en blaasinstrumente.

Die UNISA Skadujurie-prys van R3 000 vir die beste semi-finalis, wat nie ‘n na die finale ronde kon deurdring nie, het na Rosemarie Lemmer, 19, van Garsfontein, Pretoria, gegaan. Sy het ook die R2 000 Michael Masote-prys as die mees belowendste mededinger in die klavier-afdeling gekry. Zoe Coetzee, 17, van Bloemhof Meisies Hoër in in Stellenbosch het dié prys in die strykinstrumente kategorie gekry.

Beate Boshoff, 16, van Voortrekker Hoër in Bethlehem, Vrystaat, het weggestap met die R4 000 Pauline Nossel-prys vir die beste uitvoering van ‘n klassieke werk deur ‘n pianis.

Aangebied deur die Nasionale Jeugmusiekstigting, bied die jaarlikse kompetisie vir klassieke instrumentele spelers tussen 14 en 19 jaar oud prysgeld van meer as R145 000. Vanjaar is 21 deelnemers vanoor Suid-Afrika gekeur om aan die vier-ronde stryd van 10 tot 14 Oktober by die Hugo Lambrechts-Ouditorium deel te neem.

Elkeen moes ‘n verskeidenheid klassieke werke speel voor agt vermaarde beoordelaars wat bygestaan is deur ‘n skadujurie met voormalige kompetisie-deelnemers en studente.

“Oor die afgelope 33 jaar, verbeter die standaard jaarliks, ‘n bewys dat daar ‘n gesonde groeikultuur vir klassieke musiek dwarsoor Suid-Afrika is,” sê Michael Maas, stigter en voorsitter van die Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK).

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar