Van lesbian motorbike rallies tot gimkanas op klein dorpies basuin die luidsprekers dit uit in blye galme: daar is ’n Republiek van Zoid Afrika Volume 3.
Karen Zoid en Snotkop se “Dis ’n land” skop die CD aan die brand. Dit is dalk nie die beste song op die speellys nie, maar dit vergestalt die idee wat die musiek so gewild maak; musiek het nie perke nie, jy kan meng soos jy wil, solank dit vir jou lekker is. En in die Republiek van Zoid Afrika kan dit ook jou voet annekseer.
In haar republiek maak Zoid potjiekos, ietsie van dié, ietsie van daai, en siedaar, Huisgenoot-lesers en die bewakers van goeie smaak luister saam.
Laer op die lys maak Zoid en Koos Kombuis amper ’n kanon van “Onder in my whiskyglas”. Koos wys hy kan dalk eendag ’n Afrikaanse Tom Waits wees … miskien as hy nóg bietjie ouer is.
Volume 3 se lys is gelaai met musiek vir jou argief, byvoorbeeld “Jantjie”, “Met jou aan my sy”, “Groen trui”, “Byeboerwa” en vele meer. En daar is ook ’n DVD, as jy hou van kyk.
Dis inderdaad ’n nuwe musiekfront, met Zoid as die nommer een owerspeelster wat met almal kafoefel. Diegene wat die keer ’n beurt kry sluit in Emo Adams, Vicky Sampson, Claire Johnston, Jan Blohm, Carike Keuzenkamp, Jannie Moolman, Mynie Grové en Rocco de Villiers.
Zoid het die wa deur die drif van musiek-konvensies getrek en laat waai met die briek los …
